Galasiërs 6 : 2 Dra mekaar se laste, en gee op die manier
uitvoering aan die wet van Christus.
Daagliks ontvang ons nuus
van mense wat uiters swaarkry. As dit
nie ‘n aardbewing in Nepal is nie, dan is daar ‘n orkaan wat iewers
verwoesting saai, of ‘n vliegtuig wat val…
Maar dit is nie net
nuuswaardige omstandighede wat hulp verg nie… rondom ons is daar oral mense wat
swaarkry. Party het niks, terwyl ander
in oorvloed baai. Ons leer egter dat jou
oorvloed geen waarde het as jy dit nie tot voordeel van ander kan aanwend
nie.
Materiële hulp is nie die
enigste manier om jou naaste by te staan nie.
Daar is baie mense wat op ander maniere swaarkry. Dalk weet jy van iemand wat ‘n siek kind of
familielid versorg… daardie persoon sal dit so waardeer as iemand net vir
hom/haar ‘n drukkie wil gee of ‘n koppie koffie vir hul maak. In die ouetehuis sit daar ‘n magdom
vereensaamde bejaardes. Jy kan hul dag
ophelder deur met hul ‘n geselsie te gaan aanknoop of dalk net te hoor of jy
iets vir hul kan doen.
Ons kantoor het onlangs met
‘n skool kontak gemaak waar byna 200 kinders per dag gevoed moet word. Hulle het nie geld nodig gehad nie, maar hande
om op te skep of kos voor te berei.
Die ou gesegde wat lui dat
dit beter is om te gee as om te ontvang, bly van toepassing. En indien jy jou eie sorge het, sal jy sommer
daarvan vergeet as jy na ander uitreik.
Ons kan hierdie lieflike land van ons ‘n beter plek maak, deur meer vir
mekaar om te gee.
No comments:
Post a Comment