Matteus 22:39 En die tweede, wat
hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
Dit is maklik om te dink dat jy goed doen wat naasteliefde
aanbetref. Jy kan jouself oortuig dat
jy met almal goed oor die weg kom; dat
jy niemand haat of enige vyande het nie.
Die vraag aan myself is gewoonlik: “Wat is naasteliefde regtig?” As God naasteliefde moet meet, waaraan sou Hy
dit meet?
Daarom ontleed ek graag Jesus se optrede hier op aarde. Jesus het naasteliefde daagliks
uitgeleef. Hy het as’t ware prakties
gedemonstreer hoe ons moet optree. Hy
het ware empatie met siekes, armes en kinders gehad. Diegene wat swaargekry het, was vir Hom
belangrik genoeg om ‘n hand na uit te reik.
Hy het nie geoordeel nie… nie eens die prostituut nie. Sy eie behoeftes het Hy selde na omgesien,
behalwe om Hom af te sonder sodat Hy tyd saam met God kon deurbring. Selfs aan die kruis het Hy omgesien na die
een wat langs Hom gehang het. Jesus het
waarlik omgegee.
Ons gee maklik vir onsself om deur na ons eie behoeftes om
te sien. As ons koud kry, trek ons ‘n
trui aan en as ons honger is, eet ons, maar gee ons net so maklik om vir
ander?
Naasteliefde beteken dus om ander eerste te stel. Ons kan ‘n verskil maak in siekes, armes en
kinders se lewens, net soos Jesus ‘n verskil in hul lewe gemaak het. Ons hoef nie wonderwerke te doen nie, maar
ons kan liefde gee, vriendelike glimlag, ‘n sagte woord of ‘n helpende hand.
No comments:
Post a Comment