Psalm 25:2 my God, op U vertrou
ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,
Jose Mestre staan bekend as “Die man sonder gesig”. Op 14 jarige ouderdom het die gewas sy gesig
begin misvorm. Omdat sy ouers Jehova
Getuies was, het hul mediese hulp geweier.
Na die afsterwe van sy ouers, het Jose op 53 jarige ouderdom, danksy sy
suster ‘n chirurg in Chicago gevind wat bereid was om op hom te opereer. Teen hierdie tyd, moes hy die gewas na een
kant trek om te kan asemhaal en hy kon slegs deels met sy een oog sien. Die gewas was 40 cm lank, rooi en knobbelrig.
Tydens die vlug daarheen, het hy hewig begin bloei. Op een stadium het die loods omgedraai sodat
hy eers nood mediese hulp kon kry. Omdat
sy gesig so verskriklik misvorm was, was dit moeilik om te eet en daarom het hy
minder as 50 kg geweeg. Dit het ook
beteken dat hy te min vitamiene ingekry het, wat sy gesondheid verder
geaffekteer het.
Uiteindelik het hy Chicago bereik en nadat die chirurg die
gevare van die chirurgie aan hom verduidelik het, was sy antwoord: “God is die Dokter van alle dokters.”
Terwyl ek na ‘n dokumentêr oor sy operasie op televisie
gekyk het, het ek gewonder watter hel hierdie man vir soveel jare moes
deurmaak. Hy was byna ‘n kluisenaar
omdat die gewas oor sy klere gebloei het en sy gesig was iets wat mense letterlik
die skrik op die lyf kon jaag. Mense het
hom selfs probeer afneem, maar as sy suster iemand gewaar het wat dit durf
waag, het sy hul goed die leviete voorgelees.
Die operasie het 12 uur lank geduur en die gewas wat hul
verwyder het, het meer as 6 kg geweeg.
Daar was meer as een operasie en veloorplantings en steeds het hy nie
veel beter gelyk nie.
Jose het egter nooit sy geloof in God verloor nie. Alhoewel die operasie op ‘n estetiese vlak
miskien nie suksesvol was nie, was dit ‘n 100% verbetering op dit waarmee hy
moes saamleef.
Ook jy kan God vertrou vir jou toestand. Gebruik Jose se woorde om lewe oor jou
situasie te spreek: God is die Dokter
van alle dokters… die Groot Geneesheer.
No comments:
Post a Comment