1 Samuel 25:6
En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u
besit!
Partykeer
dryf omstandighede ons in ‘n donker hoekie in.
Ons kan geen rede sien om te leef nie.
Negatiewe gedagtes oorheers ons hele bestaan en ons vind vreugde in
niks. Binnekort voel ons so jammer vir
onsself dat ons glo niemand kan deur soveel pyn gaan as ons op daardie oomblik
nie.
Indien
dit is waar jy jouself bevind, of dit nou gegrond is al dan nie, wil ek jou
graag van Payton Thornton vertel. Hy is ‘n Amerikaanse seuntjie
gebore met Dystrophic Epidermolysis Bullosa (EB). Met hierdie siekte, ontbreek daar ‘n sekere
protein wat die lae vel aanmekaar heg.
Met sy geboorte is byna al sy vel van sy liggaampie gestroom toe hulle
hom wou skoonmaak. Die geringste
beweging skeur sy vel. Sy hele liggaampie is een rou wond… blase, skeure en
hier en daar ‘n rofie.
Die pyn wat hierdie kind moet
deurleef, is onmenslik. Om hom te
beskerm, draai sy ouers sy liggaampie in verbande toe. Daarmee beweeg hy soos ‘n stokmannetjie. Hy kan nie rondhardloop of speel soos ander
kinders nie. Elke twee dae moet die
verbande verwyder word en moet hy in ontsmettingsmiddel gebad word om te
voorkom dat infeksie in sy bloedstroom beland wat hom kan vergiftig. Die marteling kan tot 6 ure duur. Eerstens moet sy ouers hom oorreed om hul toe
te laat om die verbande te verwyder. Dan
moet sy ma hom in die water sit. As jy
al ooit ‘n wond gehad het, sal jy weet hoe dit brand. Hierdie kind se hele liggaam is een groot
wond. Dit klink behoorlik asof sy ma hom
in die badkamer mishandel terwyl sy pa die ander tweetjies oppas.
Kinders word met EB gebore omdat
beide ouers ‘n sekere geen het wat dit veroorsaak. Die egpaar se ander twee kinders het
genadiglik hierdie lot vrygespring.
Danksy mediese vordering, kan ‘n
beenmurg- en stamseloorplanting, Payton die nodige protein gee sodat dit soos
enige iemand anders se vel sal heg en nie skeur of skaaf nie. Sy bababoetie, Paxton, was die eerste geskikte
skenker. Jy aanskou die wroeging wat die
ouers deurgaan terwyl beide hul seuns in die hospitaal is. Beenmurg word onder narkose van Paxton
onttrek en daarna met binneaarse voeding na Payton oorgedra. Die newe-effekte is onder andere ondraaglike
hoofpyne en die ergste… dat sy liggaam die beenmurg verwerp. Wonder bo wonder oorleef beide seuntjies die
prosedure en is daar ‘n reuse verbetering in Payton se vel. Sy vel versterk daagliks en hy is uiteindelik
nie meer bang om te bad nie.
Ongelukkig het die verbetering
net ‘n jaar gehou. Die afgelope drie
jaar is daar geen verbetering nie, maar genadiglik ook geen agteruitgang
nie. Vier jaar na die oorplanting, werk
die dokters op ‘n nuwe prosedure. Hulle
gaan dieselfde selle wat hul van sy boetie, Paxton, geoes het gebruik om MSC
(mesenchymal stamselle) direk in die geaffekteerde areas in te spuit om die selle
se groei te stimuleer. Die prosedure is
egter nog in toetsfase.
Miskien plaas hierdie seuntjie se
hartseer lewe jou omstandighede in perspektief.
Elkeen van ons dra ons eie kruis en niemand kan ‘n ander oordeel
nie. Wat ek wel weet, is dat niks
waaroor ek kla ooit kan vergelyk met dit waardeur hy gaan nie.
Deesdae neem die omruil en
badproses slegs 45 minute… 45 minute van hel.
Dankie Hemelse Vader vir my
gesondheid. Leer my om my omstandighede
met dankbaarheid te aanvaar terwyl ek klein Payton in my gebede hou.
No comments:
Post a Comment