Eksodus 14:16 En jy, lig jou kierie op en steek jou hand
oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan
deurgaan.
Moses moes God
blindelings vertrou en hy moes die Israeliete oortuig dat God hul nie in die
steek sou laat nie. Met die Egiptenare
op hul hakke vlug die Israeliete reguit in die rigting van die Rooisee. Sou jy dit kon doen? Sou jy nie dalk gewonder het of Moses nou al
sy varkies verloor het nie? Dalk sou jy
sommer agtergebly het.
God het ook nie
solank die water in twee gekloof alhoewel Hy moes weet dat die Israeliete op
pad is. Moses moes eers sy kierie lig en
sy hand oor die see uitsteek.
Soms wil ons
nie daardie tree in geloof gee nie. Ons
wil bid en wag vir God om die water te kloof.
Ons verwag dat God eers alles in plek kry en dan sal ons vorentoe tree. As dit so sou werk, sou geloof nutteloos
gewees het. Geloof beteken mos juis om
te glo dit wat jy nie kan sien… of dit wat glad nie sin maak nie. God verwag van ons om teen alle logika in op
Hom te vertrou.
Die Israeliete
moes Moses en God vertrou, al het dit nie sin gemaak nie. Alhoewel die Israeliete dit nie geweet het
nie, het God hul wel beskerm terwyl hul vlug.
In vers 19 lees ons: Die Engel van God wat altyd voor die
Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek
ingeneem. Tussen hulle en die
Egiptenare was ‘n Engel van God. Niks en
niemand sou hul tenakom nie.
Al lyk dit vir
jou asof jy die volgende tree blindelings moet neem, weet dat God se Engel daar
is om jou te beskerm en dat jy op Hom kan vertrou as jy daardie tree in geloof
gee.
No comments:
Post a Comment