Psalm
118:29 Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.
Die jaar snel ten einde.
Akademiese instellings het reeds gesluit en vandag maak die bouers en
fabrieke heelwaarskynlik ook klaar. Baie
mense se vakanse begin ook gewoonlik hier rondom hierdie dae.
As jy op die jaar terugkyk, hoe lyk dit vir jou? Sien jy ‘n slagveld van gebeurtenisse wat jou
lewe ontspoor het, of kyk jy terug op ‘n jaar wat vir jou seepglad verloop
het? Hoe dit ookal sy, die afgelope dae
en maande van 2015, sal ons nooit weer terugkry nie… dis verby. Sommige sien rykhalsend uit na 2016, hopende
dat dit beter sal gaan… vir ander is dit omt’ewe.
As ek op my eie jaar terugkyk, sien ek dat dit ‘n interessante pad
was. Daar was heelwat hoogtepunte, maar
daar was ook geweldige laagtepunte. Die
goue draad wat ek egter sien, is God se voetspore, al voor my uit. Soms het ek mooi in hul gevolg, maar ander
kere het ek my eie roete gevolg. Dit was
gewoonlik waar ek teespoed opgetel het.
Vandag kan ek vir God innig bedank vir Sy geduld en liefde vir my en my
geliefdes. Sonder Hom sou die pad veel
moeiliker gewees het.
Mag God ons elkeen se voetstappe rig tot aan die einde van 2015, maar
ook in die nuwe jaar wat voorlê.
Al is ons soms eiesinnig en eiewillig… al raak ons
opstandig en mismoedig… al verstaan ons nie altyd en raak ons ongeduldig, wil
ons tog vra, Hemelse Vader, dat U ons elke dag sal herinner aan U liefde en die
wete dat daaar geen einde daaraan is nie.
Ons loof en prys U, Grootte God.
A.g.v. vakansiedae en skoolvakansie sal daar na vandag geen dagstukkies wees tot en met 17 Januarie nie, maar daar sal elke dag 'n teksgedeelte spesiaal vir jou gepubliseer word. Mag elke teks jou bemoedig en inspireer.
No comments:
Post a Comment