2 Kronieke 12 : 1 Maar toe
Rehabeam goed gevestig en sterk was, het hy die voorskrifte van die Here
verontagsaam.
Rehabeam was Salomo se seun. Dit het voorspoedig
met hom gegaan. Hy het 18 vroue gehad en
60 byvroue by wie hy 28 seuns en 60 dogters gehad het. Daar was ‘n tyd toe Rehabeam God se stem
gehoorsaam het. Terwyl hy besig was om
opgang te maak, het hy God gedien, maar toe hy die boonste trappie van die leer
bereik, het hy van God weggedraai. Ironies genoeg was dit nie net hy wat
afgedwaal het nie, maar die hele Israel het sy voorbeeld gevolg.
Ek dink nie ons kan vinger wys na Rehabeam nie,
want ons doen soms nie veel beter nie.
Ons ken almal die eposse en smsse wat vra dat daar
asseblief vir iemand gebid moet word, om welke rede ookal. Ek het egter nog nooit ‘n epos of sms ontvang
wat sê: “Dankie dat julle gebid het, ons
is nou daardeur en hier is ‘n getuienis van God se almag.”
Ons weet baie goed waar ons hulp vandaan kom, maar
hoekom vergeet ons so gou wat God vir ons gedoen het? Laat vandag se teks ons herinner om God in
goeie sowel as slegte tye te dien en nie net ‘mooi-weer-Christene’ te wees nie.
No comments:
Post a Comment