Markus 4 : 8 Die ander saad het in goeie grond geval, en
dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander
sestig- en nog ander honderdvoudig.”
Ons hoor al meer van kinders wat geboelie word by
die skool. Een van my kollegas het in
die week net by die werk aangekom, toe hy ‘n oproep van die skool kry. Die skoolhoof het sy seun in die kantoor
gehad waar hy hartverskeurend gehuil het omdat kinders hom gespot het. Spot is ook boelie, want dit breek jou
selfbeeld af.
Onlangse navorsing wat ek gelees het, skets ‘n
hartseer prentjie. Een man wat in sy 40’s
is, uit ‘n gegoede huis kom, ‘n bogemiddelde IK het… wat volgens alle
verwagtings moes presteer, sukkel het om ‘n werk te behou. Met verhoudings het hy ook nie veel beter
gevaar nie. Hy was reeds 3 keer
geskei.
Tydens ‘n onderhoud het hy vertel dat hy as kind
oorgewig was. Kinders het hom as ‘n
slaansak gebruik. Hulle sou gereeld ‘vettie’ en ‘loser’ koggel. Partykeer het
hul sy kosbak afgeneem en dit gaan wegsteek. Hy’t later geweier om kos skool
toe te neem. Daardie woorde het iewers
gaan vassteek en op die ou end het hy geword wat hulle van hom gesê het.
Ongelukkig steek woorde wat seermaak makliker vas
as komplimente. Dit was asof hierdie
jongman vasgehaak het by daardie woorde.
Woorde is saadjies.
As iemand iets negatief omtrent jou sê, vra jouself af of daar enige
waarheid insteek. As daar waarheid
daarin steek, vra jouself af wat jy daaraan kan doen. Indien jy iets daaraan
kan doen, doen dan iets daaraan. As jy geen beheer daaroor het nie, verwerp dit. Indien daar geen waarheid daarin steek nie,
vergeet daarvan. Sodra jy daaroor begin
dink en wonder, gaan dit wortel skiet en gaan jy sukkel om dit uit te roei.
Vind ook maniere om positiewe gedagtes vas te
lê. Skryf notatjies en plak dit op die
spiëel. “Jy is kosbaar.” “Jy is perfek.” “Jy het mooi oë/mond/vel.” “Jy’s geseënd.” “Jy is ‘n wenner.”
Jy is dit aan jouself verskuldig. Wees jou eie beste vriend en
ondersteuner. Wees lief vir jouself. Binnekort sal jy sien hoe jou uitkyk of die
lewe verander en jy sal ook agterkom dat ander se optrede teenoor jou gaan verander.
No comments:
Post a Comment