1 Korintiërs 9:24 Weet julle nie
dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een
die prys ontvang nie?
Die hele wêreld sit die afgelope twee weke
vasgenael voor hul televisies. As daar
nie ‘n televisie beskikbaar is nie, word daar na nuusbrokkies op die internet gekyk
om seker te maak jy bly op hoogte met al die prestasies wat op die Olimpiese
Spele behaal word nie.
Soms word ons verras… soms word ons
teleurgestel. Meeste van tyd is dit
vermaaklik en kan jy jou verkyk aan die ongelooflike vermoëns van die atlete.
Suid-Afrika het nou reeds 10 medaljes, met Caster
Semenya wat die kroon span met goud. Wat
my hartseer maak, is die kommentaar wanneer iemand nie goud behaal nie. Dis asof silwer nie veel beteken nie. Ons wil goud hê, of niks. Brons is… wel brons.
Wel, ek moet toegee, dis darem lekker om die
volkslied te hoor en te sien hoe Suid-Afrika se vlag in die middel gehys word.
Wat ‘n hoogtepunt om die spele mee af te sluit vir ons land!
Daar is egter honderde atlete wat net soveel insit,
maar ongelukkig nie wen nie. Sonder hul
deelname sou daar geen spele gewees het nie.
Dit gaan nie altyd oor wen nie, maar oor hoe jy die
wedren hardloop. Die lewe gaan jou nie
altyd laat wen nie. Hoe hanteer jy dit
wanneer jy verloor? Dit is eintlik
wanneer ons die ware karakter van die atleet sien. Dit is nie op daardie oomblik die tyd om jou
uittrede aan te kondig nie. Dan gaan jy
terug en jy oefen nog harder en jy kom met mening terug.
No comments:
Post a Comment