Levitikus 19 : 4 Julle
mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is
die Here julle God
Alhoewel ons nie meer afgodsbeelde maak nie, beteken dit nie dat
ons nie afgode het nie.
Vir party van ons is ons diere afgode. Hulle word aangetrek,
menskos gevoer en slaap selfs by ons in ons bed.
Daar is diegene wat van sport ‘n afgod maak. Geen wedstryd word gemis nie. As hul na ‘n wedstryd gaan kyk, is hulle
aangetrek in hul span se kleure, die gesigte word geverf en hul moedig hul span
met oorgawe aan. Voor die wedstryd en
lank daarna word oor niks anders gepraat nie.
Party van ons het van ons huise afgode gemaak. Die huis word versier met net die beste en
duurste. Vriende is te bang om te kom
kuier of voel ontuis.
Ander maak weer van kos ‘n afgod.
Alles draai om kos. Elke maaltyd
word ‘n ritueel. En wanneer daar nie geëet
word nie, word daar aan kos gedink of daaroor gepraat.
Dalk beskou ons nie enige van hierdie as afgode nie. ‘n Goeie toets is om jouself af te vra of jy
dieselfde of meer geld, tyd of energie aan God afstaan. Indien nie, is dit dalk tyd om jou
prioriteite in heroorweging te neem.
No comments:
Post a Comment