Matteus 7 : 25 Die stortreën het geval, vloedwaters het
afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit
nie ingestort nie, want die fondament was op rots.
Ons ervaar almal
moeilike tye en soms verstaan ons nie dit wat met ons gebeur nie. Dit is so maklik om ontmoedig te raak en
jouself te bejammer: “Hoekom moet ek so
sukkel?” Ons weet dat reën val op regverdige
sowel as onregverdige mense. Reën hang
dus nie daarvan af hoe ‘n ‘goeie’ mens jy is nie. Nou weet ons ook dat reën soms in ‘n storm
kan ontaard en weereens is ‘goeie’ mense nie gevrywaar teen sulke storms nie.
Ons ken die
gelykenis van die man wat God geëer het en sy huis op die rots gebou het.’n
Ander man het weer sy huis op die sand gebou en God nie geëer nie. Toe die storm kom, het dit beide van hul
getref, maar die persoon wie se huis op die rots (God) gebou was, se huis het
bly staan.
Jy sien dit is
hier waar die verskil inkom. Wanneer jy
God dien, is jy nie gevrywaar teen die storms nie, maar jy is geanker en daarom
sal dit jou nie vernietig nie.
Die storm in jou
lewe sal oorgaan. Die son sal weer skyn
en jy sal weer vreugde ervaar.
No comments:
Post a Comment