Handelinge 27 :
17 Nadat die matrose die bootjie
opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip
vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis
verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat
drywe
Die matrose is op die oop see en ‘n storm kom op. Hulle het ‘n baie belangrike passassier aan
boord wat hul gewaarsku het om nie te vaar nie, maar hul het van beter
geweet. Die skip beland in ‘n storm en
hul is paniekbevange.
Nadat hulle omtrent alles probeer het, en hul lewens
in gevaar gestel het, is hul so uitgeput dat hul eenvoudig die dryfanker laat
sak en die skip sommer net laat dryf.
Ons almal kom op so ‘n punt een of ander tyd van ons
lewe. Ons is moeg gespartel… ons het
alles probeer… ons weet eenvoudig nie herwaarts of derwaarts nie. Ons bid en God hoor ons nie, ons gaan kerk
toe, ons gee ons tiende, maar dit wil net nie beter gaan nie. Uiteindelik gee ons boedel oor en laat
eenvoudig God’s water oor God’s akker loop.
Soos die mens nou maar is, staan ons wel weer op. In vers 18 en 19 begin gooi hul goed
oorboord. In vers 20 hou hul op met
eet. Het jy al ophou eet van
spanning?
Dan in vers 21 praat die belangrike passassier
weer. “Julle moes na my geluister het en
in die eerste plek nie weggevaar het nie.”
Vers 22 bring egter hoop. Die belangrike persoon is Paulus… ‘n
gevangene aan boord, maar meer belangrik… ‘n ware kind van God: “Maar selfs in hierdie
omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor
nie. Net die skip sal vergaan.”
Soms is dit nodig om na iemand te luister vir wie ons miskien nie onder ‘normale’
omstandighede sou luister nie. God weet
wie om te gebruik.
No comments:
Post a Comment