Romeine 12 : 2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk
word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal
julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik
en volmaak is.
Het jy al jouself afgeluister? Ek is ernstig. As jy dit doen, sal jy gou agterkom of jy ‘n
positiewe of negatiewe ingesteldheid het.
Jy sal ook jou gedagtepatroon agterkom.
Waaroor praat jy meesal? Vra
jouself nou af of jy graag met jou sou wou gesels? Dalk is jy ontnugter oor die antwoord.
Ons ken almal iemand wat in die verlede vasgehaak het
en jy weet al presies waaroor hul gaan praat as jy hul teëkom. Of jy ken iemand wat ontsettend negatief is
en jy weet al jy gaan nog ‘n hoofstuk van klaagliedere moet aanhoor.
Ons word so geprogrammeer deur die media dat ons amper
outomaties oor hierdie goed praat wanneer ons gesels. Of ons haal sensasie aan
met wat ons op sosiale media raakloop.
Dalk het dit tyd geword om van die nuus te vergeet. Daar is juis onlangs berig hoe vinnig vals
berigte versprei word.
Kom ons vernuwe ons denke en mediteer eerder op die
enigste waarheid wat daar is: Die Woord
van God. Sodoende kan ons ‘n positiewe
ingesteldheid ontwikkel en ten minste die waarheid aanhaal wanneer ons ‘n
teksgedeelte aanhaal.
No comments:
Post a Comment