Spreuke 4:20 My seun,
hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde!
Tydens ‘n saalperiode op hoërskool het ons skoolhoof
hierdie vers een Maandagoggend gebruik om die week mee te begin. Dit het nogal ‘n indruk op my jong gemoed
gemaak.
As tiener wil jy nie juis na jou ouers luister nie… om
die waarheid te sê jy luister glad nie.
Jy rebelleer, praat teë en gooi tiener tantrums. Jou ouers weet volgens jou minder as jou
maats en eintlik doen hul net een ding – hul maak die lewe vir jou so moeilik
as moontlik, want hulle gun jou niks.
Die goeie nuus is dat ons ouers se woorde tog later na
ons terugkom en die slegte nuus is dat jy dan ongelukkig ook moet erken dat hul
nie net reg was nie, maar ook beslis beter geweet het.
As ons net oor daardie wysheid kon beskik gedurende
daardie storm en drang jare! Indien ons
regtig so wys was soos wat ons gedink het, sou ons besef het dat hul reeds die
nodige lewenslesse geleer het en eintlik net ons beswil in gedagte het as hul
ons reghelp of teregwys.
Genadiglik was ouers ook eens op ‘n tyd tieners (ek
belowe!) en daarom weet hul dat jy net besig is om jou identiteit te vorm, al
is dit ten koste van die res van die huishouding J. Daarom bly menige ouer voortdurend op hul knieë vir hul
kinders en sal hul nooit ophou om in jou te glo nie.
Al dink jy dus dat jou ouers teen jou is, is hul
eintlik jou grootste aanhanger. Luister dus tog maar so ‘n bietjie na hulle.
No comments:
Post a Comment