Spreuke 10:19 Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie
sy woorde tel, is verstandig.
Waarom draai gesprekke deesdae? Of dit nou by die tandarts, die bank of selfs
direk na kerk is, ons praat oor dit wat sogenaamde nuus is. Dit is immers waaraan ons die meeste
blootgestel word. Ons word gebombardeer
met dit wat die media as nuuswaardig ag en amper onwillekeurig raak dit die
aktualiteit van die dag wat dan noodgedwonge ons gedagtes en gesprekke
oorheers.
En as ons hierdie perde holrug gery het, praat ons oor
ander mense. Ongelukkig is min van ons
gesprekke oor ander positief… gewoonlik verlekker ons ons in hul omstandighede…
dalk omdat ons beter lyk as ons kan laat blyk wat hul situasie nou eintlik is.
Hoeveel gesprekke gaan oor God en die rol wat Hy in
ons lewens speel? Om te getuig oor dit
wat God in ons lewens doen, of vir iemand hoop te gee uit die Woord, is tog
veel meer opbouend as om jou te verlekker in iemand se seer.
Ek wil jou en myself uitdaag… kom ons tel nie net ons
woorde nie, maar draai elke gesprek terug na God. Kom ons verander die gesegde so ‘n bietjie: As jy
nie iets goeds van iemand kan sê nie, sê dan liewer iets oor God. Ek en jy weet dat ons niks slegs omtrent Hom
kan sê nie. Lees Sy Woord en neem vir jou
skietgoed saam op jou dagreis.
No comments:
Post a Comment