Jesaja 40 : 27 – 30 Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy,
Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God
verby”? Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy
insig is ondeurgrondelik. Hy gee die
vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
Wanneer jy bid en bid en God verhoor nie jou gebede
nie, is dit maklik om te dink dat God jou ignorer, te ver is om te hoor, te
besig is … van jou vergeet het. Dan
verloor ons hoop en ons gaan sit op ‘n hopie en bejammer onsself.
Vandag wil ek jou vra om nie moed op te gee nie. Moenie toelaat dat Satan jou oortuig dat God
nie vir jou omgee nie. Jy kan aanhou… jy
kan deurdruk… jy kan nog eenkeer probeer.
As God sien dat jy aanhou probeer, ten spyte van die oënskynlike gebrek
aan aandag van Hom, dis dan dat Hy jou versterk met bonatuurlike krag om voort
te gaan.
Dit is makliker gesê as gedaan… ek weet, maar ek weet
ook dat God getrou is en uiteindelik wel vir jou sal deurkom.
Ek het ook al agtergekom dat gebed en smeking
afgewissel moet word met lofprysing.
Prys God asof Hy alreeds jou gebede verhoor het. Al loop die trane, sing ‘n loflied tot Sy
eer.
No comments:
Post a Comment