Kolossense 3 : 17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen
dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Baie mense wil
nie tot bekering kom nie omdat hulle dink dat jy dan alles wat pret en plesier
is, moet prysgee. En sodoende verloor jy
die grootste kans van jou lewe… om die lewe as Christen saam met God te geniet.
Jy kan jou alledaagse
lewe buitengewoon maak, as jy dit met God doen. Jy hoef nie uit te mis op die
lewe omdat jy ‘n Christen is nie.
Christenskap bestaan nie net uit bid, Bybellees en kerk toe gaan nie; jy mag maar pret hê ook. Jy mag maar lag, grappies maak en sommer net
laf wees. Jy kan selfs ondeund
wees.
Kyk weer na
die teks. Alles kan heilig raak as jy
dit vir God doen. God het nie vir Moses
by die tempel ontmoet, maar by ‘n bos en toe God daar is, raak die grond
heilig.
Iemand het
eendag vir my gesê: “Vra jouself net af
of jy God sou saamneem waarheen jy gaan?”
Neem die voorbeeld van oefen.
Terwyl jy oefen, kan jy bid en met God gesels. God is nooit meer as ‘n gedagte ver nie. Gebed is net ‘n gesprek met God. Jou stemtoon
en taalgebruik hoef nie te verander nie.
Jy hoef nie voor te gee of iemand te wees wie jy nie is nie. God het
presies geweet wie en wat jy is en hy’t jou steeds lief. Jy mag dalk nog nie wees waar jy behoort te
wees, maar dis beter as waar jy was.
Die oudste
seun van die verlore seun verhaal was ‘n Christen, maar hy het nie lus gehad
vir ‘n partytjie nie. Dit het God nie
gestop om steeds fees te vier nie. So jy mag maar jou man en kinders geniet en
fees vier. As jy die duiwel wil kwaadmaak, raak net gelukkig. Die duiwel het geen sin vir humor… onthou hy
gaan hel toe… daar is niks om oor te lag nie.
God is nie in
‘n kas waaruit jy hom net Sondae haal nie.
Jy mag maar na
sekulêre musiek luister… alles hoef nie ‘n Christen ettiket op te hê nie. Jesus was deel van die wêreld en hy’t juis
tyd spandeer tussen die ongelowiges. Solank jy weet wat die verskil is tussen
reg en verkeerd. Die Gees sal jou gou
daarop wys as jy op die verkeerde plek is.
Motiewe – dit
kan so ‘n groot verskil maak. Wanneer jy aantrek, wil jy immers nie net goed
lyk nie, jy wil hê mense moet sien jy verteenwoordig God. Ons is immers Sy
verteenwoordiger.
Jy kan God op
enige gebied van jou lewe vir hulp vra, dit hoef nie altyd geestelik te wees
nie. Hy sal jou help met jou skoolwerk, jou stokperdjie, wanneer jy inkopies
doen, wanneer jy met die kinders speel.
Jesus het nie gesterf sodat ons ‘n geloof kan hê, maar sodat ons ‘n
persoonlike verhouding met Hom kan hê… en daardie verhouding kan enige plek
getroetel word.
No comments:
Post a Comment