Psalm 31 : 16 My tye is in u hand
Sal dit nou
nie fantasties wees as God volgens ons skedule reageer nie? Ek meen, ek weet mos hoe dringend my situasie
is. Ek sal mos nie dae en nagte ombid as
dit nie dringend is nie.
Ons hoef maar
net na Lazarus se verhaal te kyk om te weet dat God Hom nie veel aan ons
skeduletjies steur nie. Volgens menslike
standaarde is God te laat… Lazarus is dood… einde van die storie. Nie vir God nie. Vir hom is dit nooit oor nie.
Wanneer jy na
die Bybel kyk is daar vele voorbeelde waar God in die agtergrond besig was
terwyl die hoofspelers geglo het dat die aangeleentheid onmiddellike aandag
verg. In dieselfde Bybel lees ons dat
God vandag en gister presies dieselfde is.
Dit wat Hy in die Bybel se tyd gedoen het, is vandag nog net so relevant
en moontlik.
Dit mag wees
dat jy jou op hierdie oomblik te midde van ‘n enorme krisis bevind. Jou besigheid is op die punt om te sink… jy
het God vandag nodig… nie môre of volgende week nie… vandag. Jy het ‘n misdaad gepleeg en jy’s
gevang. Nou is jy verhoorafwagtend. Jy het God nou nodig… nie môre of volgende
week nie. Jy het jou vlug verpas en jy
moet eenvoudig op daardie vlug kom. Jy
het God nodig om nou vir jou ‘n plek te maak.
En dan word
jou gebede nie beantwoord nie. Jy verloor
jou besigheid… jy gaan tronk toe… die vliegtuig vertrek sonder jou. Nou wat nou? Bid is sommer net tydmors. God gee nie vir my om nie.
Iewers in die toekoms kyk jy egter terug op
jou omstandighede en jy sien hoe God vir jou ‘n ander deur oopgemaak het… jy
het nou ‘n vaste werk met ‘n vaste inkomste en voordele… jy het jou graad gekry
in die tronk… die vliegtuig het meganiese probleme ontwikkel…
Net soos met
Lazarus, moet ons besef dat God altyd beter weet. Die susters het genesing in gedagte gehad…
Jesus het ‘n wonderwerk in gedagte gehad.
Laat ons altyd
op God vertrou. Ons tyd in nie in ons
hande nie.
No comments:
Post a Comment