Matteus 20 :
21 “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir
haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk
langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”
Die
eerste keer toe Jesus met Sy dissipels praat oor die kruisiging, neem Petrus
Hom eenkant toe. Hy’s ontsteld… “Mag God dit verhoed,” is Petrus se versugting.
Die
tweede keer toe Hy met hulle praat is sy dissipels diep bedroef. Alles gaan dan
so goed. Jesus doen wonderwerke… die
volgelinge raak meer… hulle raak gewild…
Die
derde keer tree ‘n moeder na vore en sê as dit so is, moet Jesus asseblief vir
haar twee seuns plek hou langs Hom… die een aan Sy linkerkant en die ander aan
Sy regterkant.
Dis
maklik om die dissipels te oordeel, maar ook ons is soms kortsigtig. Ons besef nie waarmee God besig is nie en ons
bid dat dit wat ons dink sleg is, tog net nie met ons moet gebeur nie… dat God
dit moet verhoed…
Soms
is ons hartseer oor iemand se afsterwe of oor ‘n verhouding wat op die rotse
geloop het, sonder dat ons besef dat God eintlik iets veel beter vir ons in
gedagte het…
Ander
kere probeer ons as ma intree vir ons kinders.
Hulle maak droog, en ons tree vir hulle in. Ons besef nie dat ons eintlik vir God probeer
voorskryf nie…
Vir
Jesus was dit nie maklik nie, dit weet ons, maar Hy het ook geweet dat Hy die
pad enduit moes stap sodat Hy wat sondeloos was, die losprys kon betaal vir
baie mense. Hier is dit belangrik om
daarop te let dat die teks nie lees ‘almal’ nie, maar baie mense.
Soms
is dit beter om God net toe te laat om God te wees en te doen wat Hy die beste
doen.
No comments:
Post a Comment