Matteus 18 :
3 en gesê: “Dit verseker Ek julle: As
julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die
koninkryk van die hemel kom nie.
Dink ‘n
bietjie… hoe glo ‘n kind? Hulle glo wat
jy vir hul vertel. As pappa gesê het ons
gaan Sondag see toe, dan glo die kind dat die gesin wel see toe sal gaan. Daar is konstante afwagting in hul
hartjies. ‘n Kind sal aanhou vra wat hul
wil hê. Ja, dit kan ons as ouers tot
raserny dryf, veral as jy dalk in ‘n winkel is en die kind hou aan kerm oor
iets, maar feit bly staan, die kind glo dat as hy/sy vra, die ouer wel een of
ander tyd sal toegee.
Aldus
die Skrif, sal ons nie in die hemel kom tensy ons verander en soos ‘n kind glo
nie. Nou wat presies beteken dit? Dit beteken dat ons volkome op God sal
vertrou, maak nie saak hoe omstandighede lyk nie. Elke oggend behoort ons wakker te word met
verwagting: “Ek kan nie wag om te sien
wat God vir my vandag in gedagte het nie!
Vandag is die dag van my deurbraak… Vandag gaan ek daardie iemand
spesiaal ontmoet… Vandag gaan een van die vele maatskappye waar ek aansoek
gedoen het, my bel vir ‘n onderhoud.”
Wanneer 'n kind vir die ouer iets vra, is dit nie altyd vir die ouer moontlik om te voorsien in hul behoefte nie. Met God is alles egter moontlik.
Wanneer
jy met kinderlike geloof die dag tegemoet gaan, bly jy vasbeslote glo, ten
spyte van terugslae. Al lyk die toekoms
hoe bleek, jy bly glo dat God sal deurkom vir jou omdat dit is wat Hy in Sy
woord beloof. Jy hou aan vra, totdat jy ‘n
antwoord kry en jy is gevul met onmeetlike vreugde totdat dit gebeur.
No comments:
Post a Comment