Psalm 90 : 12 Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid
bekom
Besef
jy dat vandag ‘n spesiale gawe van God is?
Partykeer is ons dae so vol en ons is so besig dat ons nie besef hoe
kosbaar die lewe werklik is nie. Klein
jakkalsies steel ons vreugde en beroof ons van ons onskuld om die lewe te geniet
en waardeer soos ‘n kind.
Dalk
het jou dag nie verloop soos jy dit beplan het nie. Jy was dalk onskuldig op pad werk toe en
iemand jaag oor ‘n rooi robot en bots teen jou motor. Jou motor is ‘n wrak en jy is beseer. Daar is niks goed in hierdie dag nie. Nee, moenie dat die vyand jou beroof van
kosbare tyd nie. Die tyd wat jy ‘vermors’
deur omgekrap of ontsteld te wees, is tyd wat jy nooit weer gaan oorhê nie.
Van
die oomblik dat ons gebore word, is ons uurglas eintlik alreeds besig om leeg
te loop. Ons weet net nie hoeveel tyd
daar in ons uurglas is nie.
Moenie
wag vir verjaarsdae of spesiale dae soos Valentynsdag, Moedersdag, Kersfees, of
wanneer jy met vakansie is nie. As daar
niks spesiaal omtrent die dag volgens jou is nie, maak dit dan spesiaal. Ry ‘n ander pad. Glimlag vir mense wat jy nie ken nie. Koop vir jouself blomme. Neem die gesin see toe om die sonsondergang
te kyk.
Wanneer
jy jou kop vanaand neerlê, voel jy dat dit ‘n dag was om te onthou of was dit
maar net nog ‘n dag… of was dit ‘n dag wat jy nooit weer wil oorhê nie? Wel, jy
sal dit nooit weer oorhê nie. Dis verby…
vir altyd.
Ons
mors soveel kosbare minute en ure. Leer
om elke dag te leef asof dit jou heel laaste dag is.
No comments:
Post a Comment