Genesis 26 :
8 Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het
koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak
sy vrou Rebekka liefkoos.
Menige
jong meisie en sekerlik jong mans droom van daardie een spesiale persoon wat hul eendag sal ontmoet… daardie persoon wat hul sal voltooi… 'n sielsgenoot…
die een met wie jy vir ewig gelukkig saam sal leef.
As jy
gelukkig is, ontmoet jy daardie persoon, jul trou, maar ongelukkig is dit nie
altyd maanskyn en rose nie. Die
egskeiding statistiek in Suid-Afrika is skrikwekkend. Min huwelike bly staande teen die aanslae van
die lewe. Ek wil my verstout om te sê daar is bitter min werklik gelukkige huwelike.
Hoe
lyk jou huwelik? Is daar liefde tussen
jou en jou eggenoot? Is daar nog
romanse? Is daar nog liefkosings? Of is jul net twee mense wat miskien saam
kinders en skuld het? Dalk is die
kinders nou groot en nou kom die eintlike uitdagings, want nou besef jy skielik
dat julle vreemdelinge vir mekaar geword het.
Net
soos wat ‘n plantjie nie kan oorleef sonder water, net so kan ‘n huwelik nie
oorleef as daar nie koestering en versorging is nie. Ek praat nie van materiële versorging
nie.
God
het die kerk in Efese beskuldig: Openbaring
2 : 4 “Maar Ek het hierdie klag teen jou:
dat jy jou eerste liefde versaak het.
En dan leer Hy hul hoe om dit reg te stel vers 5: “Kom tot inkeer, en doen weer wat jy
aan die heel begin gedoen het”
As
die huweliksvlammetjie in jul huis laag brand, selfs al is daar nog net assies
oor, begin weer om mekaar te sien soos reg aan die begin. Onthou weer wat jou in die eerste plek na jou
maat aangetrek het. Begin weer jou maat
die hof maak.
As hy
of sy die moeite werd was om mee te trou, dan is hy/sy die moeite werd om voor
te baklei. Egskeiding is nie ‘n
oplossing nie.
No comments:
Post a Comment