Hebreërs 10:32 Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot
die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie
moes ly.
Teen die einde
van die ou jaar slaak meeste ‘n sug van verligting, dankbaar dat hul die jaar
oorleef het. Meeste sien uit na ‘n nuwe
jaar, wat hul glo ‘n beter jaar sal wees as die voorafgaande een.
Mense wens ook
graag mekaar voorspoed toe. “Mag die nuwe
jaar vol geluk, vrede, vreugde en voorspoed wees.” Daar is niks mee verkeerd nie en in die tyd
waarin ons leef, kan ons almal doen met ‘n bietjie seënwense.
Dit kan egter
vals hoop skep. Die nuwe jaar gaan nie
sonder uitdagings en frustrasie wees nie.
Alles gaan nie altyd klopdisselboom verloop nie. Ook aan die einde van die ‘nuwe jaar’ gaan
ons weereens dankbaar wees om dit agter te laat.
Wat ons wel
weet, is dat die Skepper van die heelal, melleniums voor ons geboorte reeds ons
lewens haarfyn beplan het. Dit is dus
raadsaam om Hom deel van die nuwe jaar te maak.
Hy weet wat vir jou voorlê. Hy
gaan jou die krag gee om staande te bly.
Daar gaan tye wees waar hy jou sal moet optel en dra wanneer jy nie in
staat is om een voet voor die ander te sit nie.
Daar kom tye
dat ons bang is vir die toekoms. Dalk
betree jy ‘n nuwe fase en jy vrees die onbekendheid. Dalk is jy vir die eerste keer alleen en jy
is benoud. Dalk staar jy groot
uitdagings in die gesig en jou keel trek toe.
Dis die tye
dat jy moet terugkyk oor jou lewe. Hoe
oud is jy vandag? Het God jou in al
hierdie jare al ooit in die steek gelaat?
Hoekom sal hy dit nou doen?
Onthou jy nog
vir Petrus wat na Jesus op die water geloop het. Ek is seker daarvan die onbekende daad moes
moed geverg het… treetjie vir treejie.
Met sy oë op Jesus gerig het dit goed afgeloop. Hy het eers in die water weggesak toe hy
benoud geraak het, toe sy fokus en konsentrasie van God weggedraai het. En selfs toe het Jesus hom met een ferm hand
vasgegryp en uit dieptes opgelig het.
Hou jou ook op
God.
No comments:
Post a Comment