Romeine 2 : 4 God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en
geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot
bekering wil lei nie?
Het jy al
iemand vermy omdat jy hulle eenvoudig nie in die oë kan kyk a.g.v. wat jy gesê of
gedoen het nie?
Soms
demonstreer ons dieselfde houding teenoor God.
Ons weet ons was verkeerd en nou vermy ons Hom, nie dat dit moontlik is
nie, maar ons bid nie meer nie, ons gaan nie kerk toe nie, want ons voel
skuldig. Selfs Adam en Eva het probeer wegkruip. Dis meesal omdat ons reken dat
God soos ons is wat kwaad is vir iemand as hul iets verkeerd gedoen het. En omdat ons mense straf wat gefouteer het,
hou ons asem op vir die straf wat op pad is.
Omdat ons soos
mense dink, reflekteer ons meesal menslike gedrag en optredes op God, maar dit
is nie hoe Hy is nie. Sy liefde is te
groot vir jou. Jy is te spesiaal vir
Hom. Hy kan eenvoudig nie vir jou kwaad
wees nie. As Hy ‘n God was wat met ‘n
stok gereed gestaan het om elke verkeerde beweging te straf, sou niemand ooit
tot bekering gekom het nie. Hy is liefde
en Sy liefde strek verder as enige sonde.
God verwerp jou nooit as gevolg van jou dade nie. Om die waarheid te sê, Hy verwerp niemand wat
na Hom toe kom nie. En onthou, die prys
vir ons sondes is reeds betaal aan die kruis van Golgota deur Jesus Christus.
So moenie
langer wegkruip nie. Sy genade en
vergifnis is genoeg vir jou. Moenie dat
vrees vir verwerping jou terughou nie.
Sy belofe dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie, staan steeds.
No comments:
Post a Comment