3 Johannes vers 12: Van Demetrius getuig almal net wat goed is,
en ook die waarheid bevestig dit. Ons getuig dit ook, en jy weet dat ons
getuienis waar is.
Wanneer ‘n
huldeblyk by ‘n begrafnis gelees word, word daar net mooi dinge oor die
oorledene gesê. Ja, ek weet dit is dikwels uit respek en glo ook dat as jy nie iets mooi kan sê jy liewer niks moet sê nie. Dit het my egter laat dink oor die huldeblyk wat eendag op my
begrafnis gelees sal word.
Nee, nie dit
wat my man, kinders of vriende van my sê nie, maar wat God van my sou sê as Hy
daardie huldeblyk moes skryf. Ek kry
sommer koue rillings, want ek is ver van perfek. Sal beslis my sokkies moet optrek en ‘n paar
veranderinge moet aanbring. Hoe sal jy
vaar? Jy sien, ons kan ons beste voetjie
voorsit en almal ‘n rat voor die oë draai oor wie ons eintlik is, maar ons kan
God nie ‘fool’ nie.
Paulus sê vir
Timoteus: maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in
liefde, geloof en reinheid. Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die
Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. (2 Timoteus 4 : 12 – 13)
Wanneer mense
goed van jou praat beteken dit dat jy gewild is en aanvaar word. As mense egter die waarheid van jou praat,
beteken dit dat jy klas (status) het.
Demetrius het klas gehad. ‘n Titel gee jou nie klas (status) nie. Hoe jy mense behandel is ‘n duidelike teken
van jou klas/status.
Leo Buschalia het gesê: "If you don't like people, at least be kind to them."
No comments:
Post a Comment