2 Korintiërs 9 : 6 – 7 Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes;
en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart
voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige
gewer lief.
Daar sal altyd
‘n polemiek wees oor hoeveel ons moet gee.
In die Ou Testament word daar verwys na ‘n tiende. Party mense raak baie tegnies: 10% voor aftrekkings of daarna of dalk net
10% van wat ek oor het? In die Nuwe Testament
het ‘n vrou al die olie in haar albastefles op Jesus se voete uitgegooi, so sy
het eintlik 100% gegee.
Alhoewel ons
al gehoor het dat dit beter is om te gee as ontvang, is meeste mense steeds
huiwerig om te gee. Verder verdedig hul
ook hoekom hul nie gee nie. Die geld
word wanbestee… Hul kry self swaar… Ons
het ‘n bakhand-generasie geword en ek gaan nie bydrae daartoe nie.
Die Bybel sê
ook dat die armes altyd met ons sal wees en dat geloof sonder dade niks beteken
nie.
In Korintiërs
leer ons egter ‘n les. As jy karig saai,
sal jy karig oes. Daarmee word jy egter
nie verplig om te gee nie, want God wil nie ‘n offer van jou hê wat jy nie wil
gee nie. Ons moet ook nie gee omdat ons
iets terug verwag nie en veral nie om raakgesien te word nie. In die geval is dit in orde dat die linkerhand
nie weet wat die regterhand doen nie.
Wees ingestel
op die Heilige Gees se stem sodat jy weet wanneer om te gee. En terloops, net soos die weduwee se kruik
nooit opgedroog het toe sy haar laaste olie vir die profeet gegee het, sal jy
ook nooit honger ly terwyl jy gee nie.
No comments:
Post a Comment