Psalm 30 : 6 Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar
sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al
weer.
So dikwels
dink ons dat God nie belangstel in ons klein probleempies nie… dat ons Hom nie
onnodig moet pla nie… dat Hy net genader word wanneer daar regtig ernstige
probleme is. Niks kan verder verkeerd
wees nie. Jy is die heel belangrikste
vir God… jy en alles wat deel van jou is… jou probleme, jou struikelblokke, jou
onsekerhede, jou vrese, jou… alles. Sy
oog is op jou. Net soos enige ouer, sal
Hy jou dissiplineer, reghelp, ondersteun, troos, leiding gee… as jy Hom
toelaat.
Droog af jou
trane en sorg dat God eerste in elke aspek van jou lewe is. Eer Hom en kyk hoe alles verander. Meeste van ons is gekraakte kruike, maar met
God se lig wat van binne jou skyn, sal jy uitstaan vir almal om te sien… jy sal
daardie spesiale iets hê waarop niemand ‘n vinger kan lê nie. Partykeer streef ons daarna om die beste te
wees, maar om die beste te wees beteken net dat jy nommer een is. Daarenteen, wanneer jy uniek is, is jy die
enigste en dit is hoekom jy vir God so belangrik is. Daar is niemand soos jy nie. Hy het jou by die naam geroep. Jy is uniek.
God het vir
Moses gesê dat Hy met hom sal wees en vandag is die woorde ook vir jou
bedoel. Met God aan jou sy, kan jy nie
verkeerdgaan nie.
No comments:
Post a Comment