Monday, 21 December 2015

Hy's op pad

Markus 1 : 2

In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak.

Sunday, 20 December 2015

Genade en vrede

Filemon 1 : 3

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! 

Thursday, 17 December 2015

Vergeet van die wraak

Miga 2 : 1

Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het. 

Wednesday, 16 December 2015

Gehoorsaamheid om reg te regeer

1 Konings 3 : 9

Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” 




Monday, 14 December 2015

Liefde

Psalm 118:29  Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

Die jaar snel ten einde.  Akademiese instellings het reeds gesluit en vandag maak die bouers en fabrieke heelwaarskynlik ook klaar.  Baie mense se vakanse begin ook gewoonlik hier rondom hierdie dae.

As jy op die jaar terugkyk, hoe lyk dit vir jou?  Sien jy ‘n slagveld van gebeurtenisse wat jou lewe ontspoor het, of kyk jy terug op ‘n jaar wat vir jou seepglad verloop het?  Hoe dit ookal sy, die afgelope dae en maande van 2015, sal ons nooit weer terugkry nie… dis verby.  Sommige sien rykhalsend uit na 2016, hopende dat dit beter sal gaan… vir ander is dit omt’ewe.

As ek op my eie jaar terugkyk, sien ek dat dit ‘n interessante pad was.  Daar was heelwat hoogtepunte, maar daar was ook geweldige laagtepunte.  Die goue draad wat ek egter sien, is God se voetspore, al voor my uit.  Soms het ek mooi in hul gevolg, maar ander kere het ek my eie roete gevolg.  Dit was gewoonlik waar ek teespoed opgetel het.  Vandag kan ek vir God innig bedank vir Sy geduld en liefde vir my en my geliefdes.  Sonder Hom sou die pad veel moeiliker gewees het.
Mag God ons elkeen se voetstappe rig tot aan die einde van 2015, maar ook in die nuwe jaar wat voorlê. 


Al is ons soms eiesinnig en eiewillig… al raak ons opstandig en mismoedig… al verstaan ons nie altyd en raak ons ongeduldig, wil ons tog vra, Hemelse Vader, dat U ons elke dag sal herinner aan U liefde en die wete dat daaar geen einde daaraan is nie.  Ons loof en prys U, Grootte God.



A.g.v. vakansiedae en skoolvakansie sal daar na vandag geen dagstukkies wees tot en met 17 Januarie nie, maar daar sal elke dag 'n teksgedeelte spesiaal vir jou gepubliseer word.  Mag elke teks jou bemoedig en inspireer.

Sunday, 13 December 2015

'n Stukkende beursie

Haggai 1 : 6  Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos 'n dagloner wat sy loon in 'n stukkende beursie steek.

God praat met die volk oor die heropbou van die tempel.  In Haggai lees ons dan dat mense reken die tyd om die tempel te herbou het nog nie aangebreek nie, selfs al het Cyrus dit al agtien jaar voor dit beveel.

God gebruik Cyrus om vir hulle ‘n taak te gee, maar hulle glo die tyd is nie reg nie.  Hulle sal dit later doen.  Jy kan jou voorstel hoe hulle, net soos ek en jy geldige verskonings sou uitdink hoekom die tyd nog nie gereed is nie… ons is te besig,  die ekonomie… ander belangriker dinge wat wag…  En so stap die tyd aan, agt jaar later.   Ongehoorsaam?

As jy ooit gewonder het wat gebeur as ons nie doen wat God van ons verwag nie, is die antwoord in vers ses.  Ons saai, maar daar’s amper niks om te oes nie, ons drink water, maar ons dors word nie geles nie, ons steek ons geld in ‘n sak met ‘n gat in..  Is dit dan ‘n verrassing hoekom dit met ons gaan soos wat dit gaan?  Is ons nie in hierdie situasie omdat ons nie na die stem van God wil luister nie?  Vers sewe laat jou nogal nadink:  “Neem ter harte wat met julle gebeur.”

Is daar iets wat God van jou verwag om te doen wat jy voortdurend uitstel?  Ons kan uitstel of ons doof hou, en voortploeter in omstandighede, of ons kan besluit om gehoorsaam te wees en skouer aan die wiel te sit.

Thursday, 10 December 2015

Deel jou geheime met God

1 Korintiërs 2 : 9 – 10   Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet .  Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God.

Met wie deel jy jou diepste geheime?  Meeste mense deel dit met iemand naby aan hul soos hul eggenoot, familie, vriend(in).  Die vereiste om hartsgeheime met iemand te deel is gewoonlik dat die persoon moet kan verstaan waardeur jy gaan.  Hul moes dalk al self deur so iets gegaan het.

Met wie deel God Sy gedagtes?  Volgens die skrifgedeelte ken die Gees die diepste geheimenisse van God.  Dieselfde Gees woon in ons, wat dus ook aan ons die gedagtes van God openbaar. 

Dit is vir God belangrik dat jy weet wat Hy van jou dink.  Hy wil Sy planne aan jou openbaar en aan jou dinge wys wat jy nog nooit gesien het of van gedroom het nie.  As ‘n gelowige is jy sy kind, maar ook sy vriend. 


Daarom hoef jy nie jou geheime met ander te deel nie.  God wat jou naaste vriend en vertroueling is, is al wat jy nodig het.  Bou aan jul verhouding van boesemvriende, die een met wie jy alles deel, die een wat jy vertrou om daar te wees vir jou wanneer almal rondom jou laat spaander.  Hy ken reeds elke gedagte van jou, maar Hy wil so graag dat jy met Hom daaroor gesels.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...