Thursday, 3 March 2016

Lank genoeg



2 Kronieke 12 : 1  Maar toe Rehabeam goed gevestig en sterk was, het hy die voorskrifte van die Here verontagsaam.

Rehabeam was Salomo se seun. Dit het voorspoedig met hom gegaan.  Hy het 18 vroue gehad en 60 byvroue by wie hy 28 seuns en 60 dogters gehad het.  Daar was ‘n tyd toe Rehabeam God se stem gehoorsaam het.  Terwyl hy besig was om opgang te maak, het hy God gedien, maar toe hy die boonste trappie van die leer bereik, het hy van God weggedraai. Ironies genoeg was dit nie net hy wat afgedwaal het nie, maar die hele Israel het sy voorbeeld gevolg.

Ek dink nie ons kan vinger wys na Rehabeam nie, want ons doen soms nie veel beter nie.

Ons ken almal die eposse en smsse wat vra dat daar asseblief vir iemand gebid moet word, om welke rede ookal.  Ek het egter nog nooit ‘n epos of sms ontvang wat sê:  “Dankie dat julle gebid het, ons is nou daardeur en hier is ‘n getuienis van God se almag.”  
 
Ons weet baie goed waar ons hulp vandaan kom, maar hoekom vergeet ons so gou wat God vir ons gedoen het?  Laat vandag se teks ons herinner om God in goeie sowel as slegte tye te dien en nie net ‘mooi-weer-Christene’ te wees nie.

Wednesday, 2 March 2016

Wyn



Spreuke 20 : 1  Wyn maak jou tong los. Sterk drank maak jou lawaaierig. Hy wat hom aan drank vergryp is nie verstandig nie.

As jy enigsins aan die effek van te veel drank getwyfel het, hoef jy nou nie meer daaraan te twyfel nie.  Dit is bevestig in die Woord.  

Die probleem lê nie by drank nie, maar by die individu wat hom of haar daaraan vergryp.  Dit verbaas my altyd dat party mense nie hul maat ken as dit by drank kom nie.  Daardie selfde persoon sal sy sente twee keer omdraai, maar as dit by drank kom, is daar geen logika nie.  

Almal kan gewoonlik die probleem sien, behalwe die drinker.  In die drinker se oë is diegene wat hom/haar in toom wil hou pretbederwers.

Moeilik om te verstaan totdat jy lees dat dit onverstandig is om jou aan drank te vergryp.  Iemand wat drink dink nie meer logies nie. 

Wanneer drink jy te veel?  Wanneer jy alleen die enigste een is wat jou drinkery geniet.  Drank vervreem jou van alles en almal.  Daar is genoeg redes hoekom jy jouself nie aan drank moet vergryp nie, maar die belangrikste is dat jy dit besef, want niemand kan namens jou ophou drink nie.


Tuesday, 1 March 2016

Jy kan niks saamneem nie



Prediker 5 : 14 ‘n Mens kom kaal die wêreld in, so gaan hy ook die wêreld uit. Daar is niks wat jy kan saamvat vir al sy moeite nie.

As kind is ek geseën met BAIE poppe.  My gunsteling was my bruidspop… een waarvoor ek baie lank moes wag. En dan was daar my praat-pop.  As jy die toutjie agter haar nek getrek het, het sy gesê:  “My naam is Marietjie.”  Met al die poppe en pragtige beddegoed en gordyne met ballerinas op, het ek ‘n kamer gehad waarvoor ek baie lief was… so lief dat ek saans lê en dink het dat ek eendag met kamer en al begrawe wil word.  

Noodloos om te sê, ek het nog nie besef dat jy niks kan saamneem nie.

Dit is in meeste mense se natuur om hul lewe te wil verbeter.  Gemeet aan kapitalistiese standaarde is daar niks mee verkeerd nie.  Daar is ook praktiese oorwegings.  As die huis te klein raak, moet jy noodwendig uitkyk vir ‘n groter huis.

Waar ons egter die pot dikwels mis sit, is die feit dat ons nie besef ons gaan ‘n lewensstadium bereik waar ons weer moet afskaal nie.  So gaan ons groter en groter, met meer en meer ‘goed’ wat ons koop om die leë spasies te vul.  Dis alles goed en wel terwyl die familie groei, maar daar kom ‘n tyd dat hul die nes verlaat en dit is dan dat jy ontnugter word.  Die groot plek raak ‘n las om skoon en in stand te hou.  Die goed wat jy so sorgvuldig oor die jare uitgesoek het, waarop jy soveel geld uitgegee het, wil niemand regtig hê nie.

Om jou omstandighede te verbeter en vooruit te gaan, is nie verkeerd nie. Ons moet woeker met die talente wat ons ontvang het en ons mag nie die muntstuk wat God vir ons gee gaan begrawe nie.  Maar ons moet besef dat besittings ons nie in die hemel kan kry nie.  Daar moet ‘n balans wees tussen geestelike en materiële vooruitgang. 
 
Ek het darem uiteindelik grootgeword en van my poppe afgesien, wel van almal, behalwe Marietjie.  Sy beklee vandag ‘n ereplek in my huis, maar ek besef ek kan niks saamneem nie – nie eens my geliefde pop nie.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...