Monday, 5 June 2017

Psalm 15

Here, wie mag dit waag in u teenwoordigheid?
Wie mag woon op u heilige berg?
Hy wat onberispelik lewe en doen wat reg is, met 'n opregte hart die waarheid praat;
wat nie sy medemens belaster, hom benadeel, of van hom kwaadpraat nie;
wat die wat aanhou sondig, verfoei, hulle eer wat die Here dien en beloftes gestand doen selfs tot sy nadeel;
wat nie geld op rente uitleen nie, en nie omkoopgeld teen onskuldiges aanvaar nie.

Here, as ek hierdie Psalm van Dawid lees, besef ek dat ek nog so ver te kort skiet. Lei my asseblief na die lig.  Dit is my begeerte om elke dag areas in my lewe te identifiseer waar ek kan verbeter.  Soms is ek blind vir my eie foute en daarom het ek nodig om my oogklappe af te haal en heeltemal eerlik met myself te wees.

Ek soek U met my hele hart en ek wil regmaak waar ek nog faal.  Here, soms benadeel ons iemand sonder dat ons eens weet.  Maak my oë oop vir my eie tekortkominge en verwyder my selftrots sodat ek daardie persoon kan nader en om vergifnis vra.


Dankie dat U my so lief het dat U my die geleentheid gee om te werk aan myself.

Sunday, 4 June 2017

Prys God!

Psalm 99:5 Prys die Here ons God. Kom buig in aanbidding voor Hom: Hy is heilig!

“The Wheel: Survival Games” is ‘n oorlewing program met ‘n verskil.  Ses deelnemers word in verskillende gebiede afgelaai o.a. ‘n Reënwoud, ‘n eiland, die tundra, bosveld, berge en vlaktes.  Die uitdaging is om 60 dae sonder enige ondersteuning te oorleef.  Daar is geen prysgeld op die spel nie. Elkeen kry ‘n vislyn, visnet, ‘n rantsoen van boontjies, ‘n pot, slaapsak, ‘n baie basiese noodhulptassie en ‘n seil om hul teen wind, reen en sneeu te beskerm.  Die wiel roteer op ‘n tyd dat hul nie vooraf weet nie.  Dan word hul na die volgende gebied geneem.  Hul het selfs hul eie kameras om hul reis te verfilm. Party areas is ‘makliker’ as ander, maar dit bly ‘n stryd op oorlewing.  Elkeen het ‘n sender met ‘n knoppie wat hul kan druk as hul nie verder kan aangaan. 

Die grootste uitdaging is egter nie soseer fisies nie, maar psigies.  Eensaamheid blyk die grootste uitdaging te wees.  Natuurlik speel honger ‘n groot rol.

Wat my opgeval het, is dat 4 mense al opgegee het en dat die twee wat oorbly albei Christene is, met die name Luke en Adam (geen toeval na my mening).  Op ‘n stadium is Luke mismoedig omdat hy honger is en eenvoudig geen vis kan vang nie.  Hy begin sing en bid en binne sekondes vang hy ‘n hele paar visse in sy net.  Dieselfde gebeur op ‘n stadium ook met Adam.  Niemand het nog in die Tundra ‘n enkele vis gevang nie.  Hy bid en daar vang hy sommer ‘n groot vis.


Beide hierdie mans bewys dat ons moet aanhou om God te loof en prys te midde van omstandighede.  Vir albei van hul, soos vir jou en my, het God nie teleurgestel nie. 

Thursday, 1 June 2017

Wat die Here sê

Habakuk 2 : 1  ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

Gister het ons van geduld gepraat.  Dit is veral van toepassing wanneer jy God vra om jou wysheid te gee sodat jy die regte antwoord vir iemand kan gee.

Elke dag besef ek al meer en meer hoe mense na raad en leiding smag.  Mense lees artikels of self-help boeke, hul luister na Christen radio omroepers of motiveringsprekers… Daar is beslis ‘n honger na hoop en bemoediging.  Ek kan dit goed verstaan, want ons almal moet ons siele voed en perspektief kry wanneer die skaal na een kant neig.

Juis daarom moet ons verantwoordelik omgaan met raad en daad.  Die tyd vir leë woorde en cleches is verby.  Soms is woorde nie eens nodig nie.  Wees net daar vir iemand.  Bid saam met iemand.

Op die ou einde maak net dit wat God sê regtig saak.

Wednesday, 31 May 2017

Geduld

Habakuk 2 : 3  Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie

Dit maak nie saak hoe gelowig jy is of hoeveel jy dit al vantevore gedoen het nie, wag bly ‘n uitdaging.
Ons leef immers in ‘n kits-wêreld wat niks doen om ons geduld te leer nie.  In plaas van ‘n brief skryf, dit toeplak en gaan pos en dan op ‘n antwoord te wag, het ons eposse, WhatsApp, Facebook, Skype, ens.   Ons maak ‘n blikkie of pakkie oop of kry kits-kos in plaas van om ‘n behoorlike aandete te kook.  Daar word nie meer oor en weer gekuier nie, want ons is so voortdurend in kontak dat ons niks meer het om oor te gesels as ons by mekaar sou uitkom.  Selfs in restaurante sit die mense om die tafel elkeen met hul foon en speel as om te gesels.

Niks het egter in die geloofswêreld verander nie.  God se Woord word dalk nou op ‘n selfoon, rekenaar of tablet gelees, maar dit is nie op enige manier verkort nie.  Sy beloftes is steeds daar, maar Hy beantwoord gebede nie vinniger nie. 

Wanneer ons bid en niks gebeur nie, kan ons maklik opgee of dink dis nie binne God se wil nie.  Al kom die antwoord nie dadelik nie, beteken dit nie God het nie gehoor of dat niks gaan gebeur nie.  Ek het die afgelope weke male sonder tal gesien hoe God inderwaarheid in die agtergrond besig was terwyl ek gedink het niks gebeur nie.

Hou aan bid en hou aan vertrou.  God sal vir jou deurkom, wanneer jy dit die minste verwag.

Tuesday, 30 May 2017

Wat word van ons land?

Psalm 10 : 3  Die goddelose verlustig hom nou al in wat hy hoop om in die hande te kry. Die een wat hom wil verryk ten koste van 'n ander, wens homself by voorbaat geluk. Hy verag die Here. (13) Hoe durf die goddeloses God verag en reken Hy sal hulle nie uitvind nie? (14)  En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar 'n einde aan. Op U verlaat die ongelukkige hom, ook vir die weeskind is U 'n helper.

Dalk vra jy ook die vraag: Wat word van ons land?  Een ding is verseker, dit is beslis deesdae ‘n interessante plek om te woon. Daar is voortdurend komedie en tragedie.  Wanneer ons na al hierdie dinge kyk, lyk dit asof God homself distansieer van hierdie situasie. Jy wil amper soos die Psalmdigter vra waar God dan is.  Maar as jy hierdie Psalm lees, besef jy hierdie dinge is nie nuut nie.  Oor die eeue heen was daar onregverdigheid, self-verryking, sonde.

Ek glo nie vir een oomblik dat God apaties staan teenoor hierdie situasie nie.  Dit druis in teen alles wat ons in die Bybel leer.  Jy kan nie anders as om dan te wonder wanneer God gaan optree of wat Hy aan die situasie sal doen nie.  Ons het dan in Bloemfontein gebid en vas geglo daar sal verandering kom, maar helaas, die sepie duur voort.

Net God sal weet wat Sy planne rondom dit alles is.  Intussen kan ek en jy twee dinge doen.  Ons kan aanhou bid en terwyl ons bid, ook hierdie mense in gebed opdra. Of ek en jy dit nou wil weet of nie, hierdie leuenaars, korrupte amptenare, moordenaars, bedrieërs ens, ens, ens is ook ons medemens.  Ook hul is geregtig op God se genade.  God wil nie dat een siel verlore gaan nie, hoe kan ons hul dan veroordeel of ignoreer? 

Die laaste opdrag was duidelik… Ons werk is om siele te werf.  Die oordeel sal kom, maar van waar dit behoort te kom… van God.

Monday, 29 May 2017

Psalm 104

Psalm 8 : 4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,

Dis ‘n rukkie sedert ek my laaste dagstukkie met jou gedeel het. Dankie dat jy my hierdie pouse tyd gegun het.   Intussen het baie water in die see geloop. 

Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie aan my ma dink nie. Die woorde in die teks herinner my aan haar geliefde lied:  Psalm 104:  “O Heer my God as ek in eerbied wonder. En al U werke elke dag aanskou. Die son en maan, die aarde, sterre, wolke, Hoe U dit elke dag so onderhou…”  

Ek mis haar geweldig. Elke dag besef ek meer en meer hoeveel sy in en om ons huis gedoen het sonder dat sy dit ooit daaroor geroem (of dit genoem) het.  En ek was so besig dat ek helfte daarvan nooit raakgesien het nie.  Spyt is ek oor baie dinge, maar dit is helaas te laat.

Daardie dae is vir altyd verby.  My fokus het egter verskuif. Ek leef stadiger… wat ek daarmee bedoel is dat ek niks meer najaag of wil bereik nie. My enigste doel is nou om selfs ‘n nouer verhouding met my Hemelse Vader te hê. My hele lewe draai nou om Hom.

Nou het ek tyd om uit te stap en die diere kos te gee, na die voëlgesang te luister, te sien hoe die blare verkleur en my te verlustig in die lieflike Herfsdae. Ek weet ons het water bitter nodig, maar ek waardeer hierdie dae so.  Verlede week het ek in die platteland gery waar dit heelwat gereën het gedurende die nag en vroegoggend en ewe skielik was dit ‘n miernes van bedrywighede.  Boere en hul trekkers het op die landerye gewoel.  Boere is verseker deesdae op hul knieë, maar God het op die regte tyd voorsien en hul kan saai.  Laat ons hul in gebed hou vir opvolg reën. 

Oral waar ek kyk, aanskou ek die handewerk van God en dit hou my geaard en herinner my aan Sy beloftes.     

Ek hoop dat die lewe jou goed behandel het die afgelope paar maande.  Indien jy ‘n uitdaging of twee die hoof moes bied, vertrou ek dat dit jou geloof versterk het en weereens aan God se goedheid herinner.

Sunday, 12 February 2017

Pousetyd



Op 30 Januarie 2017, het my lewe gaan stilstaan toe my ma, wat 25 jaar lank by my gewoon het, tragies afsterf.  Daar was geen geleentheid om te groet.

Vir die eerste keer in my lewe, het ek nie die moed om aan te gaan nie.  Niks maak sin nie.  Nie net is haar plek leeg nie, maar alles rondom my herinner my elke oomblik aan die verskriklike leemte wat sy agter laat.

Alles voel onwerklik... die verlange en hartseer is byna tasbaar. Daar is niks meer finaal as die dood.

Die dagstukkies word gewoonlik so twee weke vooruit geskryf.  Die afgelope twee weke kon ek myself nog nie sover kry om te skryf nie.  Ek hoop jy verstaan dat ek tyd nodig het om te rou.  Dit wat ons nie doodmaak nie, maak ons gewoonlik sterker.  Ek moet glo dat God ook hiermee 'n doel het.

Gun my asseblief hierdie pouse totdat ek gereed is om die blog voort te sit.

Jesusliefde,




Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...