Thursday, 29 October 2015

Wag geduldig

Jakobus 5 : 7   “Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 

Ek het agter in die ry gestaan toe geduld uitgedeel is.  Dis regtig een van my swakpunte.  Ek het geduld met ander, maar ek kan nie wag nie.  Alles moet gister gebeur. 

Dis net hier waar die probleem lê, want daardie drome wat God in my aangewakker het, wil ek nou verwesenlik.   Daar is egter ‘n seisoen vir alles en as dit nie my seisoen is nie, beteken dit ek moet geduldig wees.  Ons spandeer soveel tyd om te wag… ons wag in rye… ons wag vir dinge om te gebeur…  en ek kan nie wag nie!  En hier mis ek dikwels uit, want daar is ‘n regte en verkeerde manier van wag.  Soms raak ek mismoedig en is ek eenvoudig nie langer lus vir wag nie… dit is wanneer ek uitverloor op geleenthede.  As ek nog net ‘n dag of ‘n uur langer sou wag, sou alles in plek val, maar nee, ek neem sommer oor en dan loop alles verkeerd.

Realiteit is dat daar tye gaan kom dat ons moet wag.  Ons kan niks daaraan doen nie.  Dit gaan egter daaroor hoe ons wag.  Die boer in die teksgedeelte wag ywerig… nie passief terwyl hy sy voete tik nie.  Praat van geduld.  ‘n Boer kan nie die reën gaan haal of dit namaak nie.  Hy wag.  Ek het onlangs met ‘n boer gesels en was verstom om te hoor hoeveel insetkoste hulle het.  Met die huidige droogte het die grootste deel van die oes mislik.  Terwyl hul wag op reën verskroei die oes op die land.  Boere sien hoe hul insetkoste ‘down the drain' gaan, maar hul bly glo dat God sal voorsien.  Al het die oes misluk… al moet hul wag tot volgende jaar wat hul weer insetkoste het en weer nie reën gewaarborg is nie, bly hul glo.

Wat ‘n les in geduld.  Bly glo en bly geduldig.  Terwyl jy bid en hoop op ‘n wonderwerk, bid ook vir geduld en geloof om jou deur te sien.  Geloof open die deure vir ‘n wonderwerk.  Op die regte tyd voorsien God… in oorvloed!


Wednesday, 28 October 2015

God se karakter

Hebrew 13 : 8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Hoekom lees jy jou Bybel?  Party mense lees dit omdat hul bemoediging of antwoorde soek.  Ander lees dit omdat hul God se beloftes aangryp.  Sommige lees dit vir Bybelstudie doeleindes en daar is ook diegene wat dit uit gewoonte lees. 

Een van die redes hoekom ons Die Bybel moet bestudeer, is om God se karakter te verstaan.  Wanneer jy Die Bybel lees, is daar ‘n goue draad van ware verhale… verhale van mense wat deurmaak wat ons deurmaak… wie se probleme opgelos word… wie feilbaar is…  Die Bybel is ‘n dagboek uit die verlede.  Ons lees ‘die Woord is die waarheid’.  Ons lees van beloftes, wonderwerke, verhale van hoop...  Die sentrale figuur is ons Drie-Enige-God.  Hy is die Een wat elke belofte gestand doen, wat oor en oor bewys waartoe Hy in staat is, wat toelaat dat ons Hom leer ken as ‘n God van Liefde, genade, toewyding, opoffering, verdraagsaamheid, die Enigste een wat regtig aan jou kant is. 

Niks omtrent God het verander nie.  Hy is steeds dieselfde God.  Ek glo dat Hy jou wil seën soos wat Hy vir Josef, Abraham of Elia geseën het.  Ek glo dat Hy ook vir jou deure wil oopmaak en bonatuurlike wonderwerke wil bewerkstellig. 

Die vraag is of jy gereed is om hierdie stortvloed van seën te ervaar?  Sien jy dit met jou gebeur?  Glo jy dat dit met jou kan en gaan gebeur?  God van Die Bybel is dieselfde God van vandag.  Niks was toe vir Hom onmoontlik nie… niemand te gering nie… Hy het uitgereik na mense wat ander verstoot het… Hy het liefde betoon waar daar net haat was. 

Ek hoop dat jy hierdie karaktertrekke van God in die Woord sal vind en dat dit jou sal oortuig waartoe Hy in staat is. 


Tuesday, 27 October 2015

Meester skaakspeler

Romans 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Ons het al almal dinge beleef wat eenvoudig nie sin maak nie.  Hoekom moet ‘n jong kind aan kanker ly?  Hoekom word vrouens verkrag?  Hoekom word ‘n geliefde se lewe kortgeknip deur iemand anders se hande?  Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?

Die lewe en mense is nie regverdig nie, maar ons moet onthou dat God regverdig is.  So hoekom laat hy toe dat hierdie dinge gebeur?  Ons soek antwoorde en ons wil nie ‘n teks soos die een hierbo hoor nie, want die slegte dinge wat gebeur oorheers alles anders.  

Partykeer lees ons ‘n teksgedeelte en ons maak sin daaruit in die geheel, maar ons mis ‘n woord of twee.  Die kern van hierdie teks draai rondom die woordjie ‘meewerk’.  Ons sien net die onregverdigheid omdat ‘n ander vrou my man verlei het of die onregverdigheid dat ek wat nog jonk is my werk verloor het terwyl iemand wat veel ouer is liewer in die slag moes gebly het, m.a.w. ons sien net ons kant van die saak.  God sien die volle prentjie.  Hy het ‘n doel met alles in die lewe en op die ou end neem Hy die skerwe van jou stukkende lewe en Hy maak die mooiste mosaiek daarvan. 

As een deur toegaan, gaan ‘n ander een oop.  Die struikelblokke in jou pad is bloot boustene wat jy moet gebruik in jou pad na bo. 

Wees vandag verseker dat God ‘n plan het met jou lewe.  God maak nie foute nie.  Hy is die meester skaakspeler… elke skuif is haarfyn beplan met een mikpunt – oorwinning vir jou en vir my.

Monday, 26 October 2015

Betaal met geloof

Matthew 21 : 22  As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”

As jy te vinnig ry of onwettig parkeer, word jy beboet…  Wanneer jy jou boete betaal het, is jou naam vir nou skoon.  As jy te veel geld uit jou rekening onttrek of jy betaal ‘n rekening laat, word daar rente op jou rekening gehef…  As ouers skei, word daar onderhoud betaal… Wat jy ookal in die lewe wil hê, moet jy voor betaal.  Geld maak alles reg.

In die Goddelike realm beteken geld niks.  Jy kan nie jou plek in die Hiernamaals koop nie… as jy oortree het, kan jy nie ‘n boete betaal nie.  Geld het geen waarde nie, want die enigste betaalmiddel is geloof.

Dis nogal moeilik, want jy kan nie met geloof betaal nie… jy’t geld nodig om jou skuld te betaal… jy’t geld nodig vir ‘n dak oor jou kop of klere en kos in jou kaste…

Die verskil is dat jy nie ‘net glo nie’, jy ‘glo in’.  Om te glo in God beteken dat jy weet jy kan Hom vertrou om vir jou deur te kom al lyk dit volgens die kaarte in jou hand onmoontlik.  Jy moet glo in Sy beloftes en vertrou op Sy Woord. 

So waar kry ons geloof?  Die Woord sê dat elkeen van ons die vermoë om te glo ontvang het.  Daardie geloof sal groei hoe meer ons die Woord lees, ontleed, gehoorsaam en verstaan.  En so ontvang jy waarin jy glo.


Sunday, 25 October 2015

Hy sal jou nooit begewe of verlaat nie

Romans 2 : 4  God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

Gewoonlik, as ons iemand te nagekom het, is dit makliker om daardie persoon te vermy as wat dit is om hul in die oë te kyk.  Eintlik is ons bang dat hul ons sal verwerp as ons hul byvoorbeeld sou nader.

Baie keer het ons dieselfde benadering tot God.  Ons weet ons het gefouteer en ons voel so skuldig en sleg dat ons God vermy.  Ons bid nie… ons lees nie Bybel nie… ons gaan nie kerk toe nie…  Ons reken dalk ons moet liewer wyd hou.  Net soos ‘n kind wat kattekwaad aangevang het, dink ons dat God ons nie kan sien as ons hom nie kan sien nie, ne.  Niks kan verder van die werklikheid verwyder wees nie.  God is nie kwaad vir jou nie.  Om die waarheid te sê, Sy arms is altyd oop om jou terug te verwelkom… maak nie saak wat jy verkeerd gedoen het nie. 

Jy sien, ons onderwerp God aan menslike maniere of vereistes.  God dink nie so nie en Hy oordeel ook nie so nie.  Hy is verdraagsaam en geduldig… vertrou op Sy goedheid… gee Hom die geleentheid om Sy Godheid aan jou te openbaar.  Hy is dieselfde God wat beloof het om jou nooit te begewe of te verlaat nie, so hoekom sal Hy nou Sy rug op jou keer. 

Thursday, 22 October 2015

Waarop fokus jy?

Prov 4 : 25  Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit.

Waarop rus jou fokus, figuurlik gesproke, vandag? 

Terwyl jy dink, kan ek met jou deel waarop my fokus gerig was.  Ek het myself betrap dat my gebede die afgelope ruk propvol versoeke was.  Alhoewel ek weet dat God alom is, het ek op ‘n stadium erg begin wonder oor my lysie, want dit het by die dag gegroei.  Ek het ook bekommerd begin raak omdat nie een van die items op die lysie afgehaal kan word nie.  Dit was amper asof God my nie hoor of my gebede beantwoord nie.  Het jy al so gevoel?

Een dag tref dit my skielik… die probleme wat soos ‘n klomp tennisballe op my toegesak het, het my aandag sodanig afgetrek dat ek so gefokus was om hul te ontduik dat ek nie meer op God gefokus het nie.  Die probleme het al my aandag in beslag geneem.  En ek was voorskriftelik… het sommer vir God voorgesê hoe om die probleme op te los.

Met hierdie besef, het ek gaan stilstaan en diep asemgehaal.  Ek was so verblind dat ek alles wat die Woord ons leer vergeet het.  Werp al jul bekommernisse op my…. (en los dit by my), ek ken elke gedagte van jou… (ek weet waarmee jy worstel nog voor jy met My daaroor gepraat het) God sorg vir die gras van die veld wat vandag daar is en more verskroei is… (en ek is volgens die Woord belangriker as hierdie gras).

Van daardie oomblik af het ek my fokus verskuif na God.  Die probleme was nie weg nie, maar ek het begin fokus op Wie God is en wat Hy in my lewe kan doen.  Hy weet nie net van die probleme wat ek na Hom gebring het nie, Hy ken die fyner detail en Hy weet presies hoe om dit op te los en wanneer. 

Soms worstel ons dag en nag met goed wat al lankal opgelos kon wees as ons net nie soveel aandag daaraan gee nie.  Slapelose nagte of om moontlike oplossings te probeer vind gaan niks help nie.  Geen probleem is groter of belangriker as God nie.  Die tyd wat ons daarmee worstel kan veel beter bestee word… deur aan God se almag en vermoëns te dink en ons te herinner aan die beloftes in Sy Woord. 

Wednesday, 21 October 2015

Geld

Jesaja 52:3  So sê die Here: Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie; julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie.

Daar is verbasend baie tekste oor geld in Die Bybel.  Geld is waarom alles draai en die wortel van alle kwaad.  Die hoogste prys is egter nie in geld betaal nie, maar deur Een persoon se opoffering en ware liefde.  Hoekom heg ons dan soveel waarde aan geld?  Hoekom laat ons toe dat geld ons lewens oorheers?

Bernard Ebbers was iemand wie se skielike sukses mense aangegryp het.  Hy het van nêrens gekom en ‘n finansiële reus in die sakewêreld geword.  Die klein telekommunikasie besigheid wat hy gekoop het, het byna oornag gegroei tot ‘n multimiljoen dollar maatskappy.

Terwyl Ebbers sekergemaak het dat daar geen onnodige uitgawes in die maatskappy is nie, was hy baie meer rojaal met sy eie begroting.  Aanvanklik het hy die een luukse boot na die ander gekoop en toe sommer die maatskappy wat die bote vervaardig.  Sy trots was die “Aquasition”.  Die boot se naam het gesinspeel op al die maatskappye wat hy oorgeneem het.  Buiten luukse bote, het hy plase, ‘n sportspan, ens gekoop.  Dit alles is gedoen met lenings van 408 miljoen dollar, gerugsteun deur sy aandele in WorldCom.  Buiten sy astronomiese salaris, het hy ook gereeld aandele aan homself toegeken. 

Ongelukkig begin die telekommunikasiebedryf stoom verloor en die aandele val en val en val… van byna 80 tot slegs twee dollar.  Ebbers verkoop van sy eie aandele, maar dit red nie die situasie nie.  Intussen verskyn hy op verskeie TV programme waar hy kykers verseker die maatskappy se kontantvloei is gesond en dat die aandele nou juis ‘n winskoop is.

Intussen was Ebbers besig met ‘n baie hartseer skelmstreek.  Die uitgawes is in die balansstaat aangeteken as beleggings en daarom het die maatskappy op papier goed daar uitgesien terwyl dit inderdaad besig was om te sink.

Uiteindelik het die maatskappy ondergegaan en behalwe vir mense wat hul werk verloor het, het baie mense miljoene verloor. 

Dit alles omdat een man se gierigheid buite beheer geraak het.  Uiteindelik is hy skuldig bevind en gevonnis, maar dit kan nie vergoed vir die ellende waarin talle mense gedompel is nie. 

Wees bedag op die uitwerking wat geld of rykdom op jou lewe het.  Dit verblind dikwels mense en hul goeie oordeel.  Geld kan nie geluk koop nie en dit kan jou ook nie ‘n plek in die hiernamaals besorg nie.  As jy met baie geld geseën word, onthou altyd waar jy vandaan kom.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...