Thursday, 29 June 2017

'n Goddelike leier

Samuel is van die Here afgebid.  Hanna het egter nie net gevra nie, sy het ook beloof dat sy die kind vir God sou grootmaak.  Ons weet dat Hanna ‘n vrou van haar woord was.  Samuel word in die tempel groot, met Eli as leermeester.

Israel was nie op ‘n goeie plek nie.  In 1 Samuel 3 : 1 lees ons:  "die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie"   Die Here was kwaad vir Eli en sy familie en sou sy oordeel binnekort oor hul voltrek.  Eli se seuns het so min respek vir die Here gehad dat hul selfs die verbondsark uit die allerheiligste plek geneem het om saam te neem na die slagveld.  Nadat hul dood is, het dit die einde van die donker, chaotiese tyd van die Rigters beteken.  Samuel was ‘n Goddelike leier.  Hy lê duidelike reels neer. 1 Samuel 7 : 3  en Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.”

Die volk sien ‘n leier met visie end it bring mee dat die Israeliete God opnuut begin aanbid.

Dit is al wat ons nodig het in Suid-Afrika… ‘n ware Goddelike leier… een wat geen besluit sal neem sonder God se goedkeuring nie.  Net soos Israel, sal die Here ons ook uit hierdie donker tyd lei as ons 1 Samuel 7 : 3 sal leef.  Jy kan ‘n rol in hierdie ommekeer speel.  Bid vir ons land en sy huidige leiers (ja, ons moet steeds vir hulle bid), identifiseer vreemde gode in jou omgewing en verwyder hul en glo dat God ons uit die slawerny sal bevry waarin ons ons bevind.   

Wednesday, 28 June 2017

Psalm 20

1  Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 2 Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van die God van Jakob u beskerm. 3 Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom, u bystaan uit Sion. 4 Mag Hy al u graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind. Sela 5 Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk. 6 Ons sal juig oor u oorwinning en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi. Mag die Here alles gee wat u vra. 7 Dit weet ek: die Here sal aan sy gesalfde die oorwinning gee! Uit die heilige hemel verhoor die Here sy gebed; die Here gee deur sy groot mag aan hom die oorwinning. 8 Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God. 9 Húlle sal struikel en val, maar óns sal regop en vas bly staan. 10 Here, gee tog aan die koning die oorwinning. Mag die Here ons gebed verhoor wanneer ons na Hom roep.

Mag hierdie Psalm jou vandag raak soos wat dit my geraak het toe ek dit vanoggend gelees het.  Dis ‘n oorwinnngslied, ‘n belofte wat gehou word en die antwoord op jou gebede.

Tuesday, 27 June 2017

Wys my waar ek sondig

Psalm 19 : 13 – 14  Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.  Weerhou my van opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie. Dan sal ek onberispelik wees en vry van hierdie groot sonde.

Dit is ongelukkig so dat meeste van ons blind is vir ons eie foute.  Die feit dat ons nie ons eie foute en sondes raaksien, besef egter nie dat ons perfek is nie.  

As Christen leef ons nie toegespin in ‘n kokon nie.  Ons is deel van die wêreld met al sy versoekings en bly feilbare mense wat kan struikel.  Daarom is die kanse goed dat ons kan sondig of afdwaal.  Dis nie altyd asof ons beplan om te sondig nie… ons word eenvoudig ingetrek.  Jy is dalk deel van ‘n groep waar vuil taal aan die orde van die dag is.  Voor jy jou kom kry, laat glip jy ook ‘n kragwoord, net om darem nie heeltemal soos ‘n bleeksiel voor te kom nie...  Jy sien hoe jou kollegas skryfbehoeftes by die werk neem en jy dink by jouself dat die maatskappy nie ‘n pen of ‘n buisie pritt sal mis nie…  Of jy kyk TV en daar is eksplisiete tonele of die naam van God word ydelik gebruik.  Skakel jy die TV af of verander van kanaal of sit en kyk jy maar.   Ons het altyd ‘n keuse en wanneer ons nie teen iets is nie, is ons daarvoor. 

Die feit dat ‘almal’ dit doen, beteken nie dat dit nie sonde is nie.  Ons moet elke dag waaksaam wees.   As Christen moet ons uitstaan en opstaan vir wat reg is.

Ek en jy behoort elke dag te bid en vra dat God vir ons sal wys wanneer ons blind is vir ons eie sondes.  As iets jou pla, is God besig met jou gewete, dan moet jy luister, vergifnis vra en jou weë verander.  Dit is nie maklik nie, en ons is nie perfek nie, maar ons moet elke dag streef om meer en meer soos God te wees.

Monday, 26 June 2017

Amper mis of amper raak?

Openbaring 21:1  Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

Verkies jy amper mis, of amper raak?  As die losskakel amper mis skop, is dit oor, maar as die bal amper raak deur die pale is, is dit steeds mis.

Wanneer die oordeelsdag aanbreek moet ek en jy seker wees ons gaan beslis hemel toe (die nuwe Jerusalem).  Ons wil nie dan hoor dat ons dit amper gemaak het… as ons nog net geluister het en ons tot God bekeer het toe Hy ons geroep het nie.   God roep jou vandag.  Gaan jy instem, of nog so bietjie uitstel? 
Jy wil weet hoe ek so seker kan wees daar is ‘n God. My liewe mens, ek kom eerder eendag agter daar is nie ‘n God nie, as wat ek uitvind daar is een.

Om ‘n rugbywedstryd te verloor, is erg, maar daar is altyd nog ‘n wedstryd.  Daar is net een geleentheid om toegang tot die nuwe Jerusalem te verkry… Die alternatief is skrikwekkend, en dit is nie ‘n bangmaakstorie nie.  Jy hoor al meer mense reken daar is nie ‘n hel nie… dat hel die lewe hier op aarde is… My liewe mens, daar is ‘n hel… ‘n ewige vuur en daar is ‘n oordeelsdag. 

Dit is egter darem nie alles slegte nuus nie.  Die goeie nuus is dat jy steeds jou lewe kan omkeer om seker te maak jy gaan hemel toe.

Sunday, 25 June 2017

Tel jou woorde

Spreuke 10:19  Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig.

Waarom draai gesprekke deesdae?  Of dit nou by die tandarts, die bank of selfs direk na kerk is, ons praat oor dit wat sogenaamde nuus is.  Dit is immers waaraan ons die meeste blootgestel word.  Ons word gebombardeer met dit wat die media as nuuswaardig ag en amper onwillekeurig raak dit die aktualiteit van die dag wat dan noodgedwonge ons gedagtes en gesprekke oorheers.

En as ons hierdie perde holrug gery het, praat ons oor ander mense.  Ongelukkig is min van ons gesprekke oor ander positief… gewoonlik verlekker ons ons in hul omstandighede… dalk omdat ons beter lyk as ons kan laat blyk wat hul situasie nou eintlik is.

Hoeveel gesprekke gaan oor God en die rol wat Hy in ons lewens speel?  Om te getuig oor dit wat God in ons lewens doen, of vir iemand hoop te gee uit die Woord, is tog veel meer opbouend as om jou te verlekker in iemand se seer.

Ek wil jou en myself uitdaag… kom ons tel nie net ons woorde nie, maar draai elke gesprek terug na God.  Kom ons verander die gesegde so ‘n bietjie:  As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, sê dan liewer iets oor God.  Ek en jy weet dat ons niks slegs omtrent Hom kan sê nie.  Lees Sy Woord en neem vir jou skietgoed saam op jou dagreis.

Thursday, 22 June 2017

Bewapen jouself

Romeine 15 : 4  Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees

Deesdae hoef ons nie meer tot nuustyd te wag om te hoor wat nuus is nie.  Meeste van ons loer na ons slimfone die oomblik dat ons ons oë oopmaak.  Wat ongelukkig beteken dat die koerante ‘ou nuus’ is teen die tyd dat dit normaalweg afgelewer word.  Nuus ‘apps’, mediablaaie en sosiale media hou ons op hoogte teen die spoed dat nuus gebeur, enige plek ter wêreld.

As jy dus nie jouself anker in die Skrif nie, kan jy maklik oorweldig word deur slegte nuus.  Goeie nuus maak ongelukkig nie geld nie.  Soveel as wat ons gal braak oor die slegte nuus waarmee ons gebombardeer word, is ons dieselfde mense wat ons verlustig in die sensasie wat die media hiermee skep.  Ons praat daaroor, stuur dit aan en sodoende raak dit die middelpunt van ons gedagtes.

God se Woord is vol goeie nuus, hoop en bemoediging.  Begin jou dag op die regte noot sodat jy gewapen is vir wat ookal mag voorlê.  

Wednesday, 21 June 2017

God van die onmoontlike

Jesus het by 3 geleenthede mense uit die dood uit opgewek. Dit is tog onmoontlik – volgens enige standaarde.  Ja, behalwe volgens Jesus s’n.  By God is alles moontlik.

In Markus 5 : 22 lees ons van Jairus se dogtertjie wat terminaal siek was.  Jairus versoek Jesus om haar te genees, maar hy raak so besig dat sy reeds gesterf het teen die tyd dat Hy opdaag.  Ons weet egter dat Jesus nooit laat was nie.  In vers 41 word sy uit die dood opgewek.

Lukas 7 : 14 – 15 vertel die verhaal van ‘n weduwee wat nou ook haar enigste seun aan die dood afstaan.  Terwyl sy agter haar seun se lykstoet aanstap, rol die trane.  Jy kan jou net die smart van hierdie vrou indink… eers haar man en nou haar enigste seun.  Jesus sien hierdie stukkende vrou raak en sy hart word sodanig aangeraak dat Hy haar nie net vertroos nie, maar ook die draagbaar aanraak en haar seun uit die dood opwek.

Die bekendste is sekerlik Lasarus wat alreeds vier dae lank dood was (3 daarvan begrawe) en toe uit die dood opgewek word (Johannes 11 : 41 – 42).  Ons lees hy het uit die graf gestap met die doeke wat steeds om sy hande en voete gebind was!

Dit is asof Jesus die moeilikheidsgraad elke keer lig… eers ‘n dogtertjie, toe ‘n jongman en toe ‘n volwassene.  Die dogtertjie het net afgesterf toe Jesus haar uit die dood opwek.  Die jongman is al op pad na die graf toe Jesus hom opwek.  Lasarus is reeds 4 dae dood toe hy opgewek word!

Jesus wil vir jou en my wys dat dit nie saak maak hoe onmoontlik die situasie lyk nie, hy kan dit omkeer.  Nie net dien ons ‘n God van wonderwerke nie, maar ook ‘n God met ‘n hart vir mense.  Maak jou hart oop voor Hom en laat Hom toe om ‘n wonderwerk vir jou te bewerkstellig.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...