Job 5:9, NLV
"Wat God doen, is te groot om
ooit te verstaan... Hy doen wonder op wonder..."
Matrikulante het verlede week hul
laaste skooldag beleef. Nou lê die
bloktyd voor en dan die eksamen. Of jy
nou ‘n A-kandidaat is of iemand wat regtig skouer aan die wiel moet sit, almal
het tog maar eksamenvrees. Solank jy jou
kant bring, sal God jou die helderheid van verstand gee om die inligting op die
vraestel te kan weergee. Al is jy nie
iemand wat maklik feite kan memoriseer nie, vra God om jou te help om die
inhoud te kan onthou.
En dan lê die toekoms oop voor
jou. ‘n Nuwe begin… Vir party is dit
universiteit, vir ander die hoop op ‘n werk.
Hoe dit ookal sy, vir almal is dit ‘n tyd van onsekerheid…
Jou matriekjaar mag dalk soos die
einde lyk… jy gaan die vreemde in… jy gaan jou vriende mis… Weet verseker dat dit eintlik net ‘n nuwe,
interessante, fase is. Jou vrese en
onsekerheid oor die toekoms is onnodig.
God kan vir jou deure oopmaak wat jy nooit eens aan gedink het nie. Wat God vir jou beplan weet niemand van ons
nie, maar ons weet dat Hy ‘n God van wonders is. Sien met afwagting uit na die toekoms, want
dis ‘n nuwe begin.
"Wat lyk soos die einde, is dalk
net 'n nuwe begin..." ¬ Anoniem
No comments:
Post a Comment