Genesis 1 : 25 God het die wilde diere op die aarde gemaak,
elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere
wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.
‘n Reuse boggelrug walvis
het in ‘n web van visnette en toue verstrengel geraak.
Terwyl sy probeer loskom, het sy haarself al vaster gedraai in die
nette. Stadig maar seker het die gewig
van die nette haar mobiliteit ingekort en gekeer dat sy dryf. Die toue het in haar mond en lyf ingesny.
‘n Visserman het haar
gewaar oos van Farallone Eiland, net buite die Golden Bridge, en hulp
ingeroep. Binne ure het die reddingspan
opgedaag, maar hul was geskok oor die situasie.
Die walvis was so verswak dat hul nie tyd gehad het vir ‘n uitgerekte
reddingspoging nie. ‘n Besluit is geneem
om in te duik en die toue los te sny.
Dit was ‘n baie gevaarlike idee, want net een klap van die walvis se
stert sou die duikers te pletter slaan.
Tyd was besig om uit te
hardloop en hulle het ingeduik en begin om die toue los te sny. Nadat die laaste tou en stukke net van die
walvis verwyder is, het sy in wye sirkels geswem, duidelik oorstelp van vreugde
om vry te wees.
Daarna het sy na elke
duiker geswem en haar snoet teen elkeen gedruk en hom liggies gestamp om dankie
te sê. Die duikers het nie woorde gehad
om die situasie te beskryf nie. Die een
wat die tou uit haar mond gesny het, se haar oog het hom heeltyd gevolg en hy
sou nooit weer dieselfde wees na hierdie reddingspoging nie.
Elke huisvrou weet hoe dit
voel as jy nou net die vloer gewas het en iemand stap met vuil voete
daaroor. Dit is presies wat die mens
besig is om te doen. Ons is besig om dit
waarop God so trots was te verniel. Al
meer diere sterf uit… die omgewing word verniel en verwaarloos… ons is besig om
die aarde te vernietig. Ons het meer regte as ooit tevore, maar met elke reg
kom daar ook ‘n verantwoordelikheid. Dis
tyd dat ons daardie verantwoordelikheid ernstig opneem. Elkeen van ons kan ‘n verskil maak.
"As jy wil weet
wat 'n man is soos, kyk hoe hy sy minderes,behandel, nie sy gelykes." - J.K. Rowling
No comments:
Post a Comment