Efesiërs 5 : 29-30
“want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en
versorg dit, soos Christus met sy kerk doen. Omdat dit sy liggaam is, waarvan
ons lede is.
Ons sien hul daagliks by die robotte
staan; bedelaars (sommige sal reken luiaards of swakkelinge). As ons so ongelukkig is dat die rooi robot
ons naby hul laat stop, snou ons hul iets toe of kyk ongemaklik anderpad. Ongelukkig gaan hulle nie weg nie. Hulle stap ons bakhand tegemoet in ‘n
parkeerarea of hulle klop aan ons voordeure. Deesdae is hul manlike, vroulik,
kinders, oud, jonk, gestremd of nie, wit, swart, bruin… Armoede is nie
uitsoekerig nie.
Nou vir die ontnugtering… dit kon ek
of jy gewees het. God se genade en guns
is al wat ons skei van hulle. Die ander
werklikheid is dat hulle nie annoniem is nie, hulle het ook name, hulle het ook
gevoelens, hulle is ons medemense… ons naaste.
In die Woord lees ons dat die hele
liggaam ly, as een lid ly. Tog betoon
ons min naasteliefde teenoor hulle. Ons
hoef nie noodwendig geld te gee nie, kos of iets om te drink, sal ook uitkoms
bied. Dit kan nie maklik wees om ander
in die oë te kyk nie. Ek wonder dikwels waar is die familie? Weet hul waardeur hierdie persoon gaan? Gee hulle nie om nie? Het hul dalk opgegee omdat hy/sy op ‘n sylyn
van die lewe gerangeer is? Dan is dit
tyd dat ons instaan vir daardie afwesige familie.
No comments:
Post a Comment