Romeine 12:6 Ons het genadegawes
wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het
Jim Hullihan het ‘n ware verhaal, getiteld “Die gebreekte vlerk” geskryf.
Hy begin deur ‘n stelling
te maak dat party mense eenvoudig gedoem is tot mislukking. Dit is hoe party volwassenes na sogenaamde
‘probleem kinders’ kyk. Hy haal ‘n
gesegde aan: “’n Voël met ‘n gebreekte
vlerk sal nooit so hoog soos ander voëls kan vlieg nie.”
En dan noem hy dat TJ Ware
as kind so moes gevoel het, want hy was gebrandmerk as ‘n moeilikheidmaker in
die dorp. Onderwysers het opgesien teen
‘n klas waarin hy teenwoordig sou wees.
Hy was nie baie spraaksaam nie, het nooit vrae beantwoord nie, ander se
aandag afgetrek en was gedurig in een of ander geveg betrokke.
Alhoewel hy byna elke
standard gedruip het, het hulle hom eenvoudig deurgesit omdat die onderwyser
nie kans gesien het om nog ‘n jaar met hom te sit nie. TJ was besig om aan te beweeg, maar beslis
nie op nie.
Jim het TJ die eerste keer
op ‘n naweek leierskap wegbreek ontmoet.
Die hele skool was genooi om die program by te woon, waartydens hul sou
leer hoe om meer betrokke te raak in hul gemeenskappe. Daar was ongever 405 studente. Daar aangekom, bring die leier Jim op
hoogte. “Ons het ‘n hele spektrum hier
teenwoordig, van die hoofseun, tot TJ Ware, die seun met die langste
misdaadrekord in die geskiedenis van die dorp.”
Met die begin van die
verrigtinge, het TJ letterlik buite die sirkel van studente gestaan met ‘n
houding van “voeter voort, julle beindruk my glad nie”. Hy het nie deelgeneem aan die besprekings
nie, maar met die interaktiewe speletjies, het hy stadig maar seker begin
meedoen.
Op ‘n stadium moes hulle ‘n
lys maak van positiewe en negatiewe dinge wat die afgelope jaar by die skool
gebeur het. TJ het baie duidelike
opinies gehad en skielik het hy gevoel asof sy opinie saakmaak en dat daar na
hom geluister word. Hy het briljante
idees gehad en die ander kinders het aan sy lippe gehang.
Teen die volgende dag was
TJ 100% aktief betrokke by die sessies en teen die einde van die naweek het hy
by die Hawelose Projek ingeskakel. Hy
het genoeg geweet van armoede, honger en hopeloosheid. Die ander studente was baie beindruk met sy
passievolle belangstelling en idees. TJ
is gekies as voorsitter van die span en dit het beteken dat die hoofseun sy
instruksies van TJ moes neem.
Toe TJ Maandagoggend by die
skool opdaag, heers daar pandemonium. ‘n
Hele groep onderwysers het na die skoolhoof se kantoor opgeruk en protes
aangeteken teen sy verkiesing. Die
eerste projek was ‘n landwye voedsel insamelingsprojek en die onderwysers kon
nie glo dat die skoolhoof so ‘n prestige geleentheid, met ‘n drie-jaarlange
plan van aksie in die onbeholpe hande van TJ kon laat nie. Volgens hulle was
die projek gedoem tot mislukking.
Hulle het die skoolhoof aan
sy misdaadrekord herinner en geskimp dat hy heelwaarskynlik die kos sou
steel. Die skoolhoof het kalm geluister
en die doel van die ACE program aan hul verduidelik. Dit is om iemand se natuurlike talent en
passie te ontgin en dit dan in ‘n positiewe rigting te kanaliseer. Sodoende vind positiewe verandering in die
individu plaas. Die onderwysers het dit
duidelik gemaak dat hul nie saamstem nie en dat mislukking onvermydelik is, wat
die skool se naam deur die modder sal sleep.
Onder leiding van TJ het ‘n
groep student twee weke later, 2854 blikkies kos vir gemeenskap sentrums in net
twee ure ingesamel. Die kos het
behoeftige families vir 75 dae gevoed.
Die prestasie was so buitengewoon dat die plaaslike koerant ‘n volle
bladsy aan die artikel gewy het. Die
skool het die bladsy op ‘n kennisgewingbord vasgepen, met TJ se foto
daarby. Elke dag dat hy daar verbygestap
het, het dit hom herinner dat hy oor die vermoë beskik om ‘n groep mense te
motiveer en tot sukses te lei.
Geleidelik het TJ
verander. Hy was elke dag by die
skool. Hy het vrae geantwoord, toetse en
eksamens met goeie punte geslaag en daar was geen vuisgevegte aangemeld
nie. Tussendeur het hy ‘n tweede projek
gelei deur 300 komberse en 100 pare skoene in te samel. Sy volgende blikkieskos insameling het 9000
blikkies opgelewe en het in 70% van die haweloses se behoeftes voorsien. Om te sê die projek was uiters suksesvol
onder TJ se leierskap, laat nie werklik reg geskied aan sy bydrae nie. TJ het sy passie in die lewe ontdek en dit
het sy hele menswees positief verander.
Hy was net ‘n voëltjie met
‘n gebreekte vlerk, wat weer moes aangroei.
Toe die vlerkie aangegroei het, het hy hoër as enige ander voëltjie
gevlieg. Hy het skool suksesvol
voltooi,’n werk gekry en is vandag ‘n gerespekteerde lid van die gemeenskap,
wat nog nooit opgehou het om ‘n verskil in ander se lewens te maak nie.
‘n Kind se negatiewe gedrag
verbloem dikwels die potensiaal wat binne hom/haar opgesluit is. Dit neem net een persoon om daardie
potensiaal te ontsluit. Dalk is jy die een met die gebreekte vlerkie>