Hebreërs 13:4 Almal moet die huwelik respekteer, en mans en
vrouens wat getroud is, moet net aan mekaar behoort, want God sal mense oordeel
wat onsedelik lewe en egbreuk pleeg. (Die Bybel vir almal)
Megan van
Portland, Oregon vertel van ‘n lewensveranderende ervaring wat sy eendag gehad
het toe sy haar verloofde by die lughawe moes gaan optel. Terwyl sy angstig vir hom wag, hou sy elke
persoon dop wat deurgestap kom. So sien
sy ‘n man wat deurgestap kom met ‘n breë glimlag en twee ligte sakke. Hy peil reguit op ‘n familie reg langs haar
af, wat duidelik daar is om hom te ontmoet.
Hy reik
eerste uit na sy seun van ongeveer ses jaar en gee hom ‘n stywe drukkie terwyl
hy sy sakke neersit. Sy hoor ook hoe hy
sê: “Dis so goed om jou te sien,
seun. Ek het jou so gemis.” Die seun glimlag skaam en sê saggies: “Ek het pappa ook gemis.”
Toe draai hy
na sy ander seun van ongeveer nege jaar en hou sy gesig saggies tussen sy twee
hande vas terwyl hy sê: “Jy’t omtrent
groot geword, jongman. Ek is baie lief
vir jou, Zach!” En ook hulle twee gee
mekaar ‘n stywe drukkie.
Terwyl
hierdie toneel afspeel, is ‘n klein dogtertjie van so ongeveer ‘n jaar en ‘n
half opgewonde besig om uit haar ma se arms te probeer wriemel; haar ogies verstar op haar pappa. Hy draai na haar en terwyl hy sy arms na haar
uithou sê hy: “Hallo, Prinses,” en soen
haar oor haar hele gesiggie terwyl hy haar saggies in sy arms wieg. Die kleintjie is onmiddellik rustig en lê
haar koppie vreedsaam op sy skouer.
Na ‘n rukkie
gee hy die dogtertjie vir sy oudste seun en sê:
“Ek het die beste vir laaste gehou.”
Met die woorde neem hy sy vrou in sy arms en soen haar asof hy haar jare
laas gesien het en daarna staar hy diep in haar oë terwyl hy saggies
fluister: “Ek is ontsettend lief vir
jou.” Albei glimlag, gee mekaar nog ‘n
soen en hou mekaar se hande vas, so asof hul pasgetroud is, wat natuurlik nie
moontlik is as jy die kinders se ouderdomme in ag neem nie.
Skielik
besef Megan dat sy hul onbeskaamd dopgehou het en voor sy haarself kon keer,
vra sy vir hulle: “Verskoon my, hoe lank
is julle al getroud?”
Sonder om sy
oë van sy vrou af te haal antwoord die man:
“twaalf jaar”.
Megan voel
vreeslik sleg om so nuuskierig te wees, maar die opregte vertoon van liefde,
fassineer haar. “Jy was seker lank
weg?”
“Twee volle dae,
” antwoord die man steeds met sy oë op sy vrou gerig. Megan is nou nog meer verward, want met die
intensiteit van die hersiens, sou jy dink die man was maande lank weg.
Al wat sy
kan uitkry is: “Ek hoop my huwelik is
eendag steeds so passievol soos julle s’n na twaalf jaar van getroude lewe. Ons trou Saterdag. Ek is hier om my verloofde te kom haal.”
Die man kyk
Megan direk in die oë, asof hy tot in haar siel kan sien, en sonder ‘n sweempie
van ‘n glimlag, antwoord hy baie ferm:
“Moenie hoop nie; besluit.” Net voor hy wegdraai met sy gesin, kyk hy
haar weer aan en sê: “Mag die Here jou
huwelik seën.”
Nodeloos om
te sê was Megan gereed om haar verloofde die verwelkoming van ‘n leeftyd te gee
toe hy uiteindelik arriveer.
No comments:
Post a Comment