Psalm 142 : 5 & 7 Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak
nie. Luister na my hulpgeroep, want ek
is terneergedruk.
Ons
dominee het Sondag oor hierdie onderwerp gepreek. Dit het my regtig diep geraak omdat daar
soveel mense is wat presies hierdie gevoel ervaar. Hulle voel niemand sien hulle raak nie; niemand gee vir hul om nie; niemand kontak hulle nie. Mariëtta Kruger het onlangs gesê ouderdom
maak jou grys en deurskynend. En dit is
beslis nie net ‘ou’ mense wat eensaamheid ervaar nie. Ten
spyte daarvan dat ons selfone, Face book, Twitter, Linkedin, Instagram, ens het…
ervaar meer mense eensaamheid wat hul tot depressie en mismoedigheid dryf.
Die
boodskap het ook na 1 Samuel 22
gelei, waar ons dominee ons daarop gewys het dat Dawid daar, te midde van sy
eensaamheid, mense het wat na hom kom met hul probleme. In plaas van Dawid se eensaamheid op te los,
gee God hom mense wat hom nodig het. En
dis net hier waar die boodskap ‘n interessante wending neem.
So
dikwels gaan sit ons op ‘n hopie in selfbejammering en glo dat niemand omgee
nie en so vereensaam ons net al meer en meer. Ons moet begin om uit te reik,te
midde van ons eensaamheid, want dan sal ons agterkom dat ons iets vir hulle kan
beteken en kort voor lank is eensaamheid iets van die verlede.
Dit
is nou maar net so dat mense nie met swaarmoediges wil meng nie, so jy sal die
eerste stap moet neem en ander ‘n rede gee om na jou uit te reik.
No comments:
Post a Comment