Psalm 101 : 3 niks
wat sleg is, wil ek nastreef nie. Ek haat wat verkeerd is. Dit mag geen houvas
op my hê nie.
Dawid het ‘n stryd gestry, maar hy was
vasbeslote om God te eer in sy gedagtes.
Hy’t geweet dat hy moes waak teen dit wat hy sou aanskou. Wat hy sou sien, sou sy denke affekteer. As hy oor sy gedagtes sou waak, sou dit hom
keer om na iets te kyk wat God ongelukkig sou maak.
Pornografie, sensuele tonele in rolprente,
TV programme vol vloekwoorde, tonele wat niks aan die verbeelding oorlaat nie,
eksplesiete boeke, suggestiewe gesprekke… waaraan is jy skuldig? Partykeer staan ons sterk, maar ander kere is
ons ook maar nuuskierig. Veral as jy
hoor almal praat oor ‘n boek of rolprent wil jy tog nie hê mense moet dink jy
is preuts nie.
Dit gaan egter nie oor preutsheid nie,
maar oor morele waardes. Hopeloos te min mense het nog ‘n besliste wit en swart
area. Vir soveel het dit tot ‘n grys
niemandsland vervaag. Alles is aanvaarbaar
en toelaatbaar.
As jy enigsins twyfel of ‘n boek, rolprent
of TV program aanvaarbaar is… vra jouself af of jy dit saam met God sou
geniet?
Ek bid dat jy jou waardes in heroorweging
sal neem en harder sal probeer om God te eer in alle omstandighede. Jy kan nie
reg of verkeerd weeg na aanleiding van jou medemens se begrip daarvan nie. Dit is ‘n saak tussen jou en God. Net jy sal weet waaraan jy moet werk. Vra God om jou te help en jou weerstand te
versterk… om jou die moed te gee om op te staan vir wat reg is… in Sy oë.
No comments:
Post a Comment