Jesaja 43 : 18 Maar
moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
As jy vandag ‘n sommetjie moet maak om uit
te werk hoeveel tyd jy aan die verlede spandeer, sal die antwoord jou seker
verstom. Hoekom ons soveel tyd aan die
verlede spandeer, weet ek nie. Tog bly
ons terugdink aan wat was of wat kon wees.
Ons is so vasgevang in die verlede dat ons nie vandag kan geniet nie, en
daarom ook nie die mooi toekoms kan sien wat daar op ons wag nie. Iets onbenulligs gebeur en dit voer ons terug
na die verlede en so spandeer ons kosbare tyd op iets waaraan ons geen jota of
tittel kan verander nie.
Jesaja 43 is ‘n pragtige hoofstuk met vele
beloftes en woorde van bemoediging. God
het jou by die naam geroep… maak nie
saak waardeur jy gaan nie, Hy is met jou… Hy herinner jou dar Hy die Een is wat
‘n pad deur die see maak… dat Hy die Redder is en in vers 15 die
versekering: Ek is die Here, julle heilige
God, die Skepper van Israel, julle Koning.
Juis daarom hoef ons nie meer onsself te
sit en verknies oor wat was nie. Dit is
geskiedenis. Om die volle omvang van God
se seën op jou lewe te ervaar, moet jy
die verlede laat gaan. Jy bekommer jou
nie meer daaroor nie en jy laat ook nie toe dat dit jou toekoms bederf
nie. Jy is vry! Verklaar dus dat die verlede vergete is en dat
jy gereed is om die toekoms, met al Sy wonderlike beloftes, tegemoet te gaan.
No comments:
Post a Comment