Eksodus 6 : 8 Ek sal julle laat
kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal jul eie land wees. Ek is die Here.
Die Israeliete was vir baie jare slawe in Egipte. Dit was ‘n tyd van swaarkry, pyn en
lyding. Hulle het hul bevind in ‘n land
van ‘net-net oorleef’. Op ‘n dag het God
hul uit Egipte bevry en hul na die woestyn geneem. Dit was die land van ‘net genoeg’. God het elke dag in hul behoefte voorsien,
maar daar was geen luukses nie. Daar word vertel dat hul vir 40 jaar lank
dieselfde klere gedra het en dat die klere nooit verslete geraak het nie. Dis
beter, maar dis nog nie die beloofde land nie.
Uitendelik het God hul die beloofde land binnegelei. Dit was duidelik die land van ‘meer as genoeg’. Alles was daar in oorvloed. Die trosse aan die wingerde was so groot dat
twee sterk mans dit moes dra. Geen
wonder dit is genoem die land van melk en heuning nie. Melk en heuning is albei vloeistowwe. Net soos vloeistof vloei, het oorvloed oor
hul gespoel. Hulle kon dit nie opgebruik
nie.
God is met jou ook op pad na die land van melk en heuning. Jy bevind jouself vandag ook in die land van ‘net-net
oorleef’. Op die oomblik weet jy nie hoe
jy dit tot die einde van die maand gaan maak nie. Dis te verstane as jy geen ekstra inkomste
het nie en die uitgawes nie ophou nie.
Enige iemand sal benoud raak. Moet
jou egter nie bekommer nie. God het jou
nie vergeet nie. Beweeg net vorentoe in
die rigting wat Hy jou lei en binnekort gaan jy daardie beloofde land van ‘meer
as genoeg’ binnegaan.
No comments:
Post a Comment