Jesaja 10 : 27 In daardie dag
sal die Here die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers
aftel en dit stukkend breek.
Ek lees onlangs ‘n interessante artikel oor ‘n
spinnekop. Spinnekoppe spin ‘n web en
wanneer ‘n ander insek daarin beland, kan hul nie weer loskom nie, want daardie
draadjies is taai. Jy het dalk al gesien
hoe sit ‘n spinnerak aan jou vingers vas as jy dit wil verwyder. Wat interessant is, is dat die spinnekop nie
self vassit aan daardie taai draadjies nie.
Hoekom nie? Blykbaar stel ‘n
spinnekop se lyfie olie vry wat teen sy beentjies afloop en die draadjies glad
maak sodat hy daaroor kan loop sonder om vas te sit. Is dit nie nog ‘n bewys van die ongelooflike
Goddelike skepping nie. Hoe uniek het
God nie ‘n spinnekop gemaak nie? Dis
asof die spinnekop gesalf is met olie.
Net so rus God se salwing ook op jou. Daardie salwing beskerm jou sodat dinge wat
sou seermaak nie aan jou vatplek kry nie.
Bitterheid gaan nie aan jou vassit nie…
Jaloesie gaan nie by jou posvat nie…
Die valstrikke wat jou vyande vir jou stel, gaan jou nie terughou nie,
want jy is ‘n gesalfde van God. Jy is onder
Sy beskerming en omdat Hy jou omvou met Sy vlerke, sal niks jou onderkry nie.
So jy kan vandag met gemoedsrus tegemoetgaan, gesalfde van
God, want jy is vry.
No comments:
Post a Comment