Jesaja 41 : 10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie
bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.
Jy weet waardeur jy vandag
gaan. Jy ken die stryd en jy deurleef elke
smartlike oomblik daarvan. Te midde van dit
alles glo ek dat jy nie anders kan as om hulpeloos en platgeslaan te voel nie. Miskien voel jy so wanhopig dat jy dit
oorweeg om boedel oor te gee.
Een aand hierdie afgelope
week, voel ek net om iemand te skakel wat ek lanklaas mee gepraat het. Ons gesels oor ditjies en datjies en later
begin die persoon teenoor my oopmaak.
Net voor ons aflui, sê hy vir my:
“Baie dankie dat jy vanaand gebel het.
Jy sal nooit weet hoeveel dit vir my beteken nie. Ek was so hartseer vanaand. Dit het vir my gevoel of ek maar net ‘n einde
aan alles moet maak, want ek beteken niks vir niemand… en ek is so moeg van
alleen voortploeter. Jy het op presies die regte
tyd gebel… dankie.”
Ek wonder hoeveel mense
daar nog is wat soveel hartseer in hul saamdra. Dit moet ‘n verskriklike plek
wees as jy voel jy beteken vir niemand niks nie en net wil opgee.
God wil jou vandag verseker
dat Hy daar is vir jou. Hy wil jou help,
jou versterk, jou vashou en met Sy eie hande red. Moenie moet opgee nie. Moenie dink dat jy niks werd is of vir
niemand iets beteken nie. Jy is kosbaar
en God het jou oneindig lief.
No comments:
Post a Comment