Spreuke
31 : 30 Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n
mooi voorkoms is nie alles nie; as sy
die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.
Te
veel van ons maak op ons uiterlike staat.
Ons spandeer ‘n fortuin aan skoonheidsmiddels om onsself so goed as
moontlik te laat lyk, om nie eens van grimering en klere te praat nie.
Tegnologie verbeter sodanig dat meer en meer gedoen kan word om die lyntjies
wat vadertyd aangebring het te verwyder of ten beste te verminder en die
behandelings is deesdae relatief bekostigbaar vir Mevrou Alleman. Ouderdom word ‘n vyand wat met hand en tand
beveg word.
Uiteindelik
kan ons egter nie die uitwerking wat tyd op die mens het vryspring nie. Toegegee, party verouder stadiger en beter as
ander, maar op die ou end verkreukel en vergrys ons tog maar almal.
As jy
dus jou eiewaarde bereken op jou uiterlike, gaan jy een of ander tyd
teleurgesteld word. Dis baie beter om te
besef dat ware skoonheid daarin lê dat jy God dien. Sy liefde maak dat elke lyntjie ‘n pragtige
storie vertel. Elke grys haar word die
trots van die Meesterskilder. Die skete
en kwale wat ons ontwikkel raak deel van ons onkreukelbare karakter wat in Hom
gevestig is en daar is omdat ons vir Hom gewerk het en littekens oorhou omdat
ons die stryd oorwin het.
Aanvaar
jou ouderdom met grasie en dankbaarheid met die seker wete dat jou ware
skoonheid van binne kom.
No comments:
Post a Comment