Levitikus 20:7 Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle
God.
Chirstopher Yuan is die seun van Chinese immigrante in
Amerika. Hy was anders… korter, het ‘n
bril gedra en eerder klavier gespeel as om aan sport deel te neem.
Op negejarige ouderdom, is hy aan pornografie
blootgestel. Die reaksie wat dit in hom
teweeg gebring het, het die jong seun ontsenu.
Op 20 het hy gay kroeë besoek en teen die tyd dat hy tandheelkunde begin
studeer het, het hy besluit om openlik ‘n homoseksuele leefstyl te leef.
Met tyd besluit hy om sy ouers oor sy seksuele oriëntasie in
te lig. Sy ouers het die bekentenis
moeilik verwerk. Saam het hul besluit om
vir hom te begin bid.
So het Christoper ‘n dubbele lewe gelei. Bedags was hy student en saans het hy nie net
in gay klubs rondgehang nie, maar ook begin dwelms gebruik en selfs begin handeldryf
daarin. Die dwelmhandel het hom regoor
die land geneem en min tyd vir sy klasse gelaat. Uiteindelik is hy vier maande voor hy sou
gradueer, geskors.
Vas oortuig dat hy in beheer van sy eie lewe is en min of
meer onaantasbaar, het hy voortgegaan met hierdie roekelose lewensstyl. Intussen het sy ouers sonder ophou vir hom
gebid. Die antwoord op hul gebede het op
‘n ongewone manier gekom die dag toe nege federale agente aan Christopher se deur klop terwyl hy besig is om dwelms te
verpak. Daar was geen wegkomkans nie. Hy is in hegtenis geneem en skuldig bevind aan
die besit van dwelms, strafbaar met 6 jaar tronkstraf.
In die tronk kom hy op ‘n Gideon Bybel af en begin dit
lees. Terwyl hy dit lees, besef hy hoe
rebels hy was, nie net teen sy ouers en die lewe nie, maar ook teen God.
Eendag word hy na die klinieksuster geroep. Sy skryf iets op ‘n stukkie papier en skuif
dit oor die lessenaar na hom: HIV+.
Christopher vertel hoe dit soos ‘n doodsvonnis geklink het
en hoe hy in ‘n waas terug is na sy sel waar hy op sy bed gaan lê en net
gestaar het. Toe vang sy oog ‘n plek op
die muur waar iemand geskryf het: As jy
verveeld is, lees Jeremia 29:11. Volgens
hom was hierdie teks al wat hom deur daardie verskriklike donker nag gedra
het.
Oor ‘n tydperk van min of meer ‘n jaar, het Christopher God
intens leer ken en hom uiteindelik bekeer. Hy het geweet dat hy nie meer kon leef volgens
sy wil of die wêreld nie, maar dat hy sy hele lewe, hoop en drome aan God moes oorgee. Soos sy verhouding met God gegroei het, het
Christopher gesukkel om sy homoseksuele leefstyl teenoor God te regverdig. Hy het die Bybel van hoek tot kant deurgelees
op soek na regverdiging, maar kon niks vind nie. Hy het besef dat hy ‘n kruispad bereik
het. Of hy gaan voort om aan sy eie
gevoelens en drange toe te gee en versaak God, of hy moes besluit om
homoseksualiteit af te sweer en ‘n volgeling van Jesus Christus te word. Hy sê sy besluit was duidelik en voor die hand
liggend. Hy het God gekies.
Nadat Christopher sy tronkstraf uitgedien het, het hy sy
verhouding met sy ouers herstel. Hy is ‘n
instrukteur by Moody Bybelkollege in Chicago en leef elke dag met ‘n doel, want
sê hy, dit het HIV geneem om hom te laat besef dat ‘n mens moet leef met
dringendheid.
Hy definieer homself nie meer volgens sy seksualiteit
nie. Sy identiteit is dat hy ‘n kind van
God is. Hy het altyd gedink dat die
teenoorgestelde van homoseksualiteit heteroseksualiteit is, maar in die Bybel
het hy gelees van heiligheid en toe besef die teenoorgestelde is inderwaarheid
heiligheid. God het hom geleer om nie op sy seksualiteit
te fokus nie, maar om eerder daarop te fokus om ‘n skoon en heilige lewe te
leef.
Hy erken dat dit nie maklik is om ‘n Christen te wees nie,
maar glo dat God hom begenadig het. En
hy verkies om te glo dat hy nie HIV positief is nie, maar positief is vir God.
No comments:
Post a Comment