Deuteronomium
6 : 5 Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart, met jou hele siel en met al jou krag.
Egskeidings
is aan die orde van die dag. Twee mense
ontmoet, is smoorverlief, trou en ongelukkig leef hul nie altyd vir ewig en
altyd gelukkig saam nie. Wat die paar na
mekaar aangetrek het, raak dikwels die klein krakies in die
huweliksbootjie. Indien daar nie aan
daardie krakies aandag gegee word nie, is die kanse goed dat die huweliksbootjie
gaan sink. Daar is egter niks om oor
bekommerd te wees nie, want kort voor lank ontmoet elkeen weer iemand, raak
smoorverlief en beloof ewige trou.
Was
dit ware liefde? Die liefde wat God
verwag kan nie vandag daar wees en môre verander nie. Hy verwag dat jy Hom met jou hele wese sal
liefhê, deur dik en dun, te midde van storms en versoekings… dat jy vir Hom sal
opstaan en nooit ooit sal skaam nie… dat jy bereid is om uit te gaan en jou
liefde vir Hom verklaar aan almal wat dit gehoor het of nog nie gehoor het
nie. Hy weet dit gaan nie altyd maklik
wees nie, daarom verwag Hy dat jy Hom met al jou krag ook sal liefhê… met
daardie laaste druppeltjie energie sal jy Hom dien.
As
jy mooi nadink is dit hoe Jesus Sy liefde teenoor God die Vader betoon
het. Hy het God eerste geplaas en nie
omgegee om die minste te wees en ander te dien nie. Hy het aanhoudend die boodskap van verlossing
verkondig, selfs al het dit Hom in die tronk laat beland. Sy hele hart en siel het aan God behoort en
met al Sy krag het Hy daardie kruis gedra en uiteindelik aan Hom gehang totdat
sy laaste bietjie krag uit Hom gevloei het met ‘n finale sug: “Dit is volbring.” Getrou tot Hy Sy laaste
asem uitblaas.
Stof
tot nadenke. Het jy God so lief? Kan jy werklik sê dat jy Hom liefhet met jou
hele hart, jou hele siel en al jou krag?
Indien nog nie, vra Hom om jou te help en deur die Gees te bemoedig en
onderskraag as jy moeg word.
No comments:
Post a Comment