Psalm 142:8 Bevry my uit my
gevangenskap, dat ek u Naam kan loof.
Wanneer ons na iemand se welstand verneem, is
dit of ‘n retoriese antwoord “goed dankie”, of ‘n klaaglied. Bitter min mense sal antwoord dat hul groot
rede tot dankbaarheid het.
Toegegee, elke dag bring sy eie uitdagings en
as jy ‘n moeilike tydjie agter die rug het, is dit normaal dat dit op die
voorgrond van jou gedagtes is. Elkeen
van ons kan egter besluit of ons die glas as half vol, eerder as half leeg wil
sien.
Wanneer ons besluit ons lewensglasie is
halfvol, sal ons die klein dingetjies begin raaksien wat ons rede tot
dankbaarheid gee. Die psalmdigter stel
‘n voorwaarde… bevry my en ek sal U Naam loof.
Ons kan God loof terwyl ons in gevangenisskap is, hetsy letterlik of
figuurlik. Om God te prys te midde van
jou omstandighede, is ‘n wilsbesluit.
Dit lei ook jou aandag af van dit wat jou neerdruk.
‘n Dankbare hart is een manier om vir God te
wys dat ons getrou bly al druk die lewe ook vir ons dat ons oë traan. In plaas van vandag ‘n retoriese “goed dankie”
te gee, eer God met jou antwoord.
No comments:
Post a Comment