Kronieke 7:14 en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou
en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit
die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Op ‘n stadium het ek ‘n program oor
verskillende dorpe in Suid-Afrika aangebied.
Wat my opgeval het, was dat menige dorp sy ontstaan rondom ‘n kerk gehad
het. Mense sou op ‘n plaas ‘n dorp stig
en byna die eerste gebou wat opgerig word, is die kerk. En so groei die dorp. Die kerk word die gemene deler wat die
gemeenskap saamsnoer.
Pasella, Mooiloop en Kwêla besoek ook dikwels
die kerke in die dorpe wat hul besoek.
Vlug na Egipte het ‘n pragtige skoot van die kerk in die middel van die
dorp wanneer die program begin.
Volgens berigte in die media, loop kerke leeg. Oor die jare het luisteraars met my gedeel
dat hul nie meer kerk toe gaan nie (om verskeie redes), maar dat die Christen Radiostasies
hul kerk geword het. Almal is
welkom. Niemand oordeel jou nie, so jy
voel tuis. Jy hoef nie aan te trek nie
en ook nie eens jou huis te verlaat nie.
Dit het my laat wonder of dit nie is waar die
probleem in ons land lê nie? Die kerk
het nie geskuif nie; God ook nie. Om die
waarheid te sê, geestelike voedsel was nog nooit so vrylik beskikbaar
soos vandag nie… Tydskrifte, Radio, Geestelike literatuur, TV, epos, internet,
blogs… Tog is daar min dade/optrede van
Christenskap wat ek aanskou. Mense is bang…
hulle twyfel… soek hulp by sielkundiges…
Wat dan impliseer dat ons nie meer die kerk en
God as die middelpunt van ons lewens sien nie.
Hoe kan ons verwag dat dit beter gaan in ons land as ons nie terugkeer
na God nie? Om die atmosfeer in die
kerk, die weer, moegheid of die dominee se vermoëns te blameer is net om ons
gewetens te sus. Indringende
selfondersoek is nodig.
Is die kerk en
God die middelpunt van jou bestaan?
No comments:
Post a Comment