Lukas 15:7 Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel
blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig
mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”
Ten spyte daarvan dat ek die Here met my hele
hart dien, kan ek nie dieselfde van elke lid van my gesin sê nie. So worstel ek met die vraag: “Hoe kan ek eendag voor God verskyn sonder
hulle wat die naaste aan my is?”
My oudste seun was twaalf jaar gelede laas in
die kerk. Alhoewel hy in ‘n Christelike
huis grootgeword het, Sondagskool toe is, aangeneem en voorgestel is, het Hy
geen verhouding met God nie en daarom geen behoefte om kerk toe te gaan. Daar is
soveel rede vir my om trots op hom te wees, maar hy weier om enigsins na my te
luister as ek die aangeleentheid aanroer.
Mettertyd het ek besef die onderwerp is taboe, maar dit het nie beteken dat
ek opgee nie. Gebed sou my geheime wapen
teen satan word.
Baie dinge het die afgelope paar maande in sy
lewe gebeur en hy sou baie keer bel en net vra dat ek vir hom bid. Min het ek geweet dat God besig is met my kind. Onlangs kry ek ‘n WhatsApp boodskap van
hom: “Ma was al die tyd reg… die Here
version… en eer jou vader en jou moeder…”
Ons voer ‘n lang, diep gesprek en ek moet myself inhou om nie ‘n ‘yes’
teken te maak nie. Ek is bang opgewonde met die besef dat ek besig is om ‘n ommekeer te aanskou.
Gister bel ek hom en byna die eerste woorde
is: “Ons gaan môre kerk toe.” Dis byna asof ek nie registreer nie. Het ek reg gehoor? Here, ek bid so lank... Versigtig trap… ek mag niks sê wat hom sal
afskrik nie.
Vir die eerste keer wonder ek of predikers
weet watter groot verantwoordelikheid op hulle rus? ‘n Honger siel gaan vandag in ‘n kerk sit en
hoop om ‘n boodskap te ontvang. Ek bid
vir elkeen wat die boodskap verkondig… dat hul elke moontlike geleentheid sal
gebruik om ‘n siel te red… om iemand wat bang terugkeer na die huis van die
Here te laat tuis voel.
No comments:
Post a Comment