Genesis 3 : 17 met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak,
jou lewe lank;
Jy hoef nie ‘n ekonoom te wees om
te weet dat ons moeilike tye beleef nie.
Elkeen van ons voel dit aan ons sak.
Net ‘n paar nodige items, kos alreeds ‘n plaas se geld. Vir luukshede is daar selde ‘n
ekstratjie. Indien jy dus ‘n werk het,
kan jy jouself uiters bevoorreg ag. Ten
minste is daar ‘n maandelikse inkomste.
Vir entrepreneurs of kleinsake
eienaars is die lewe veel moeiliker. Die
verhoging in petrolpryse en eskom se prysverhogings, met gepaardgaande kragonderbrekings,
plaas geweldige druk op die kontantvloei van menige kleinsakeonderneming. Jy kan immers nie elke keer dat die
petrolprys of eskom pryse opstoot jou eie pryse opstoot nie, want dan is jy binnekort
sonder kliënte. Sonder jou personeel kan
jy ook nie. Al genade is om meer
kapitaal in die besigheid te pomp, of meer skuld aan te gaan. Om kop bo water te hou, ‘betaal’ baie van
hierdie sakemanne nie eens hulself nie.
Sogenaamde kleinsakeondernemings,
is die drywer van die ekonomie en word ook gesien as ‘n belangrike rolspeler in
die vermindering van werkloosheid, maar hulle kry min of geen steun van die
owerhede.
Vandag wil ek jou versoek om vir
hierdie dapper mans en vrouens te bid wat elke dag moedig voortbeur ten spyte van
al die probleme wat hul elke dag in die gesig staar. Hoe meer mense hul werk verloor, hoe groter
word hierdie groep. Elkeen probeer sy
bes om ‘n eerlike bestaan te maak en sukses beteken meeste van tyd net genoeg
om al die gate toe te stop.
No comments:
Post a Comment